Local newsNews

Pam Taljaard (73) van Kinross maak gospelmusiek

Egpaar wil boodskap van evangelie steeds verkondig.

Pam Taljaard (73) het besef drome kan nog bewaarheid word en dat sy, in Christus, nuwe hoogtes kan bereik.

Sy het op ’n hoë ouderdom in haar lewe vir die eerste keer ’n musiekvideo opgeneem en ook op die Christelike televisie-kanaal, Kruiskyk verskyn.

Taljaard het egter jare se ondervinding as sanger en het vir lank saam met ’n gospelgroep, Vinesong, opgetree en deur Suid-Afrika getoer.

Die bekende liedjie, ‘Let your Living Waters flow over my Soul’ is deur die leier van die Vinesong-groep en Taljaard geskryf.

Sy het op ’n plaas naby Witrivier in die Laeveld grootgeword en ná skool is sy Johannesburg toe om onderwys te studeer.

Sy het vir twee en ’n half jaar skoolgehou en in die skoolkoshuis gebly.

Dit is in dié tyd wat Taljaard haar eerste kitaar gekry het en leer kitaar speel het.

Sy was nog altyd lief vir musiek en het in ’n huis grootgeword waar haar pa, Reins Meyer, altyd musiek gespeel het en dit waardeer het.

Sy het haar eerste klavier gekry toe sy 12 jaar oud was en het vir klavierlesse gegaan.

Taljaard het later haar sangloopbaan begin en saam met haar suster regoor Suid-Afrika opgetree.

Haar suster het geelsug gekry en Taljaard moes alleen die kaberet-werk doen wat vir haar baie uitdagend was, maar ook baie leersaam vir haar toekoms.

Sy het eers later in haar lewe daadwerklik tot bekering gekom nadat haar ma Bybelversies op haar spieëlkas gelos het.

“Ek het een nag om 02:00 wakker geword en net geweet ek moes die Bybel, wat ek as ’n Kersgeskenk gekry het, begin lees.

“Ek het Johannes 14, 15 en 16 begin lees en so gehuil en ’n totale oorgawe aan die Here gemaak.

“Ek het later, op 2 April 1978, vir my ma en sussie, wat op daardie stadium reeds bekeer was, gesê ek wil saam met hulle kerk toe gaan waar die boodskap gegaan het oor Dawid en Goliat.”

Taljaard het besef hoewel sy die applous van baie mense geken het, en as kind uitgeblink het en Junior Springbok-kleure in atletiek en Suid-Afrikaanse kleure in verskeie ander sportsoorte verwerf het, dat sy steeds dolleeg en alleen aan haar binnekant gevoel het.

“Ek was gedrewe deur al die optredes en het gedink ek moet altyd optree om waardig te voel en het nie besef dat Jesus my reeds waardig gemaak het nie.”

Sy het egter ’n dieper verhouding met haar Skepper gevorm en besef haar identiteit en waarde lê in Hom.

Sy het later, by ’n optrede by die Hoëveld Christen-sentrum buite Kinross, haar man, Cobus Taljaard ontmoet.

Sy was reeds 35 jaar oud toe sy getroud is en het nooit kinders van haar eie gehad nie.

“Ek het een keer vir Vader gevra hoekom ek nie kinders het nie en Hy het vir my gesê ek sal die ma wees van baie geestelike kinders en vandag is dit so.”

Die egpaar is in Jerusalem in Israel getroud en dit was vir hulle só ’n voorreg.

Taljaard moes ook borskanker oorwin en moes in 2000 ’n dubbele mastektomie ondergaan.

“Die Here het vir my die woorde gegee om liedjies te skryf en ek het Kaap toe gereis en die uitvoerende hoof van Kruiskyk, Clemens Mans, gaan sien.

“Ek was reeds 68 toe ek my eerste liedjie by Kruiskyk TV vir ’n YouTube musiekvideo opgeneem het.

“Ons het ’n paar weke nadat ek vir die eerste keer vir hom gesing en kitaar gespeel het, ’n CD ook opgeneem.”

Sy het, saam met Mans en Rafkin, al verskeie liedjies bekendgestel op die CD en YouTube.

Taljaard is op twee Vroue van Uitnemendheid-programme, waar sy oor identiteit gepraat het, te sien.

Dié programme is op YouTube beskikbaar.

“Wat ’n voorreg om die blye boodskap, nou, in ’n tyd soos dié te kan sing en bedien,” het Taljaard gesê.

Cobus bied vandag steeds gereeld Bybelstudies op Kruiskyk TV en TBN TV aan.

Nog ’n plaaslike inwoner, Gerrie van Staden, bedien ook op Kruiskyk TV.

Kruiskyk TV se Space HD dekodeerder is teen ’n eenmalige bedrag beskikbaar.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button