Secunda-ouers glo in baba se genesing
Eduan se suurstof-vlakke en hartklop normaliseer nadat man bid.
Klein Eduan Naudé (4 weke) se ouers glo in die krag van gebed en in Jesus.
Hulle het net geweier om te glo dat hul kind nie middernag sal sien op Sondag, 3 Julie toe ’n dokter dit oor hom uitgespreek het nie.
Eduan is op Maandag, 20 Junie as ’n mikro-premature baba gebore.
Hy was vir net minder as 29 weke in sy ma, Nadine Naudé, se maag.
Hy het 1.20kg geweeg en was 38cm lank.
Nadine het op 20 Junie begin sleg voel en is per ambulans na Mediclinic Highveld geneem.
Eduan se pa, Henrico, het van die werk af na die hospitaal gehaas. Die dokter het gesê klein Eduan se kans op lewe is beter buite Nadine se maag as binne omdat haar plasenta geskeur het.
Eduan is met ’n noodkeiser in die lewe gebring en sy toestand was kritiek.
Die x-strale het getoon dat sy longetjies nog nie ten volle ontwikkel het nie en hy moes dadelik aan twee buises gekoppel word om vog en water op sy longe te dreineer.
Vir die volgende 13 dae het dit goed met die kleinding gegaan, hoewel sy toestand steeds kritiek was.
Henrico het homself weer eens na die hospitaal gehaas op Saterdag, 2 Julie toe Eduan se ingewande geskeur het.
Die dokters vermoed dit is weens ’n bloedtoevoer-tekort.
Hy het bloeding op sy brein opgedoen.
“Ek het net die hele tyd gesit en bid en Jesus gevra om my kind gesond te maak,” het Henrico vertel.
’n Helikopter het Eduan na die Kloof Hospitaal in Pretoria geneem.
Die Naudé-egpaar was bykans dieselfde tyd as die helikopter daar.

’n Professor by die Kloof Hospitaal het vir die egpaar gesê dinge lyk glad nie goed nie en dat sulke babas dit gewoonlik nie maak nie.
Toe die dokters ’n skandering gedoen het, het hulle agtergekom die bloeding op sy brein is erger as wat hulle eers gedink het.
Eduan moes dadelik geopereer word, maar die dokters was bang sy lyfie sou nie die narkose kon hanteer nie.
“Hulle het toe ’n dreineringspyp ingesit en agtergekom sy toestand is nog erger en hy moes dadelik teater toe gaan,” het Henrico vertel.
“Ons het net gebid dat hy die operasie sou maak.
“Hulle moes ’n stent in sy kop sit vir die bloeding op sy brein.”
Hierna moes hy nog ’n operasie ondergaan om die ingewande by sy maag reg te maak.
“Dit was ’n verskriklike emosionele proses, jy bly net op jou knieë en ons het al ons vriende en familie gevra om saam met ons te bid.”
Die dokter het die volgende dag gesê Eduan se kans op lewe is net 20% en sy hartklop asook sy suurstofvlakke het geval.
Sy hart het ’n gaatjie gehad en dan te vinnig en dan te stadig geklop en kon sodoende nie genoeg suurstof na sy bloed en organe vervoer nie.Hy het drukking op sy brein gehad en sy organe het begin ingee.
“Die dokter het toe vir ons gesê hy sou nie middernag sien nie, maar ons het gesê ons sny daardie woorde af in Jesus se naam.
“Ons het gesê hy sal dit maak.”
Iemand het Henrico laat weet dat ’n weldoener wat die Naudé’s van geenn kant af ken nie, vir Eduan wil bid.
Kobus Kruger, het Henrico met ’n video-oproep op WhatsApp geskakel en oor die foon vir Eduan gebid.

“Dit was die mooiste gebed wat ek al ooit gehoor het,” het Henrico vertel.
Na net ’n halfuur het Eduan se hart normaal begin klop, sy suurstof was op ’n normale vlak en hy is dieselfde dag van 10 soorte medisyne af na net drie toe.
“As ek voorheen gedink het my geloof is groot, dan is dit nou nog groter.
“God is groot en almagtig en ons kan nie ophou dankie sê nie, alle eer aan Hom.”
Eduan sal heel moonlik nog vir die tydperk wat hy in sy mamma se maag sou wees, in die intensiewe sorg-eenheid van die hospitaal moet bly.
Die Naudé’s kon uiteindelik op Dinsdag, 5 Julie vir die eerste keer hul seuntjie bietjie vasgehou het en sy grootouers kon ook met hom kennis gemaak het.
Die pype is uiteindelik op Donderdag, 14 Julie verwyder en Eduan doen goed.
Die gesin het gevra dat mense steeds bly bid vir Eduan, sy ouers en sy boetie, Francois (4) wat nie kan wag dat sy kleinboet moet huis toe gaan nie.
Henrico het gesê as enige iemand gebed nodig het, is hulle welkom om hom en Nadine te skakel by 079 823 2618 sodat hulle kan getuig van God se wonderwerke.





