Gru-botsing naby Standerton het verreikende gevolge
Haar vriend, Brian van der Schyff, het die motor bestuur en is noodlottig beseer.
Chantelle Swart, werknemer van die Standerton Advertiser wat in ’n ongeluk betrokke was op Vrydag 8 Julie, sterk aan na ’n operasie wat etlike ure geduur het.
Dié botsing het met die terugkeer vanaf Platrand gebeur.
Dié ma van vier se dogters, Zuané en Zimoné, was ook in die voertuig wat met ’n aankomende bussie gebots het.
Haar vriend, Brian van der Schyff, het die motor bestuur en is noodlottig beseer.
Sy dogter, Bianca en haar vriend, Ewert Ceronio, was ook in die voertuig.
Bianca het beserings opgedoen en is in die hospitaal opgeneem.

Haar vriend het geringe beserings opgedoen.
Zuané Swart is verlede week in die Standerton Hospitaal opgeneem en kort daarna ontslaan.
Zimoné Swart het ook die afgelope week ‘n operasie ondergaan, maar die volle omvang van haar beserings kon nie bevestig word nie.
Ma en dogter ontvang mediese sorg in die intensiewe eenheid van die Sunshine Hospital in Benoni.
Zuané, Zanika en Bradley Swart is in die sorg by ’n vriendin op die dorp.
Chantelle het haar selfoon, beursie en handsak verloor en enigeen wat dit dalk mag optel, kan dit by Burgerstraat 13B kom afgee.

Sy het in die eerste stemboodskap gesê dat hul goeie behandeling kry, terwyl haar tweede stemboodskap aangedui het dat die pad vorentoe lank sal wees.
Albei haar bene is in die ongeluk gebreek, sowel as haar linkerarm en haar skouer is ook beseer.
Die koerant het die afgelope week deurgaans probeer om met Perdekop Polisiestasie in verbinding te tree, sonder sukses.
’n Boodskap is op Vrydag 15 Julie op die stasiebevelvoerder se selfoon gelos.
Meer besonderhede oor die botsing was nie teen druktyd beskikbaar nie.
Die Standerton Advertiser sal die gemeenskap op hoogte van verdere verwikkelinge hou.



