Ds. Henk en Hettie Boshoff groet Standerton na ’n dekade
Hettie het vir sy 60ste verjaardag met die rooi, Mazda MX5 vorendag gekom en sy hartsbegeerte van 35 jaar vervul.
Ds. Henk Boshoff en sy vrou Hettie, verhuis in Augustus na hul vakansiebestemming, Hartenbos.
’n Goed ingerigte vakansiehuis wag op hulle.
Hettie se oom het destys ’n restaurant op Hartenbos bedryf en dié eenheid sal die wegspringplek wees vanwaar hulle die hele Wes-Kaap, Namibië en Mosambiek wil verken.
“Ons het vroeër altyd kampeer en later was daar opslaanhuisies voordat my pa in 1970 ’n erf gekoop het,” aldus Hettie.
Ds. Henk emeriteer op 31 Julie en die besluit om nou af te tree, is nie ligtelik geneem nie.
Sy vrou se borskankerdiagnose in 2018, gekoppel aan die dood van hul dogter Lizelle aan breinkanker, het die egpaar tot ander insigte gebring.
“Geld is nie alles nie,” het albei mee saamgestem.
Die begrafnisdiens van wyle Susan Jonker, ’n kankerstatistiek van Standerton, het hulle diep getref.
“Dit kon my vrou gewees het,” het hy gedink.
Hettie is geruime tyd kankervry en albei wil meer tyd met mekaar deurbring.
Mevrou dominee is sy nie – wat haar vaardighede betref nie – want dié afgetrede onderwyser ruil die gloeilampe om as hulle blaas.
Haar praktiese aard laat haar gebreekte goed nadertrek om reg te maak.
“As jy vir my ’n skroewedraaier gee, is ek boos,” aldus ds. Henk.

Sy het sommer ook haar eie gereedskapkissie.
Die leraar van die N.G. Kerk se Wesgemeente het eers aptekerswese vir een jaar aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir CHO studeer.
Hy het geroepe gevoel om na teologie oor te skakel en toe hy die nuus aan sy moeder oordra, het sy haar Bybel gaan haal.
Na die geboorte van sy susters, het sy gebid soos Hanna in die Bybelboek Samuel, vir ’n seun en die belofte aan die Opperwese gemaak dat sy hom in Sy diens sal laat gaan.
Dié Bybel is tans in die besit van hul jongste seun, Nicus, ’n man wat die regswese die rug toegekeer het om ’n onderwyser te word.
Michelle is die oudste, Lizelle is daarna gebore, Rian is die ander seun en die Boshoffs het drie kleinkinders, Ryan, Leché en Josua.
Die sportgene loop in die familie.
Pa het na 30 jaar se muurbalspeel eers drie jaar gelede weer sy tennisraket opgeneem, en het gereeld in die verlede vir Mpumalanga-spanne gespeel.
Ma was ’n LO-onnie en spog met gimnastiekprestasies op nasionale vlak.
Michelle het haar onderskei as trompoppie in Mpumalanga se Prestige-orkes en het in Taiwan opgetree, terwyl Rian vir die Poemas se rugby 0/21’s en die Blou Bulle 0/21 opgedraf het.
Nicus laat ook nie met hom mors nie en het Springbokkleure in binnenshuise krieket en landsdiens verwerf.
Albei broers het provinsiale kleure in sport bereik en Lizelle was die ene met die engelstem.
Trofees van hul kinders se hoogtepunte sal sekerlik ’n plekkie in die nuwe huis kry.

Ds. Henk se eerste gemeente was Dunnotar Vliegskool, daarna Eshowe en Middelburg Kanonkop is bedien vir 22 jaar voordat daar Standerton toe getrek is.
Hy gaan incognito op Hartenbos wees en nie dadelik homself beskikbaar op die preekstoel stel nie.
Hettie het vir sy 60ste verjaardag met die rooi, Mazda MX5 vorendag gekom en sy hartsbegeerte van 35 jaar vervul.
Gespaar is daar gespaar en dié afslaankapmotor gaan die voertuig wees waarmee gereis gaan word.
Vir die rekord, ds. Henk het die koffie tydens die onderhoud gemaak.
Die egpaar het ter afsluiting elke lidmaat van die Wesgemeente en die gemeenskap bedank vir die aanvaarding, liefde en ondersteuning die afgelope 10 jaar.
Hulle het dit as ’n hoogtepunt in die sowat 38 jaar van bediening beskryf.
’n Wens is uitgespreek dat elke lidmaat die seën van die Here sal beleef en daarvoor dankbaar sal wees.
Alles van die beste en mooiste is aan almal toegewens.
“Standerton-Wes is ’n gemeente van die Here,” het hulle mee afgesluit.



