Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkel het onlangs sy deure op Evander oopgemaak.
Alta Bezuidenhout, wat in April 2020 reeds ’n Ons Winkel-tak op Secunda oopgemaak het, het besluit om nou een vir die Evander-gemeenskap ook oop te maak.
Die konsep van die Ons Winkel-projek is om voorkomend op te tree deur vir mense werksgeleenthede te skep, asook om Solidariteit Helpende Hand se studiefonds aan te vul.
Dié nie-winsgewende organisasie se uitkykpunt is om eerder vir mense permanente of lang termyn-oplossings vir armoede te gee, as om hulle afhanklik van skenkings te maak.
Dit is dus waarom dié organisasie se studiefonds vir hulle so belangrik is.
Johan Nel, uitvoerende direkteur van Helpende Hand Sake, het gesê om vir mense kospakkies te gee, is ’n verligtingswerk en die mees sigbaarste werk wat Helpende Hand doen.
Dit is egter kort termyn van aard en nie volhoubaar nie.
“Dit is hoekom ons net vir drie maande vir mense kospakkies gee, dan moet daardie persoon aanbeweeg na iets meer volhoubaar,” het Nel gesê.
“Met die studiefonds, help ons iemand om ’n graad of kwalifikasie te kry en daardie persoon kan dan self vir sy of haar gesin sorg.”
Die Ons Winkel-groep het al meer as 350 werksgeleenthede vir mense geskep en 40% van die wins wat deur die Ons Winkel-takke gemaak word, gaan na Solidariteit Helpende Hand se Mpumalanga Streekfonds wat onder andere vir studiefondse aangewend word.
Evander-inwoners kan hul ou items wat hulle wil uitgooi, aan Ons Winkel op Evander skenk.
Bezuidenhout het die gemeenskap aangemoedig om Ons Winkel, wat in Toulousestraat geleë is, te besoek en enige iets, van meubels tot kombuisware en klere, te skenk.
Die opbrengs van al die items wat in die Ons Winkel-takke verkoop word, word aangewend om verskeie volhoubare projekte te loods en onderhou om Afrikaner-armoede te verlig, te verbreek en te voorkom.
Skenkings kan ook opgelaai word as vervoer ’n probleem is.
Vir meer inligting, skakel Bezuidenhout by 082 826 5228.



