Ouetehuis op Standerton rig nuwe eenhede in
Tydens ’n besoek op Woensdag 13 Julie was dit duidelik dat weggedoen word met ’n hospitaalatmosfeer.
Die bestuur van Kosmos Aftree-oord voer groot planne in die mou.
Die Standerton Advertiser het reeds voorheen berig oor die sewe nuwe eenhede wat ingerig word om spesifiek in seniorburgers se behoeftes te voorsien.
Twee dubbel- en vyf enkeleenhede word tans aan gewerk vir inwoners wat semi-mobiel is en wel versorging nodig het.
Die verhuringsbedrag van eenhede sal verskil van eenheid tot eenheid.
Tydens ’n besoek op Woensdag 13 Julie was dit duidelik dat weggedoen word met ’n hospitaalatmosfeer.
Eenhede sal oor ’n badkamer en kombuisie beskik en rolstoelvriendelik wees.
Volgens dr. Mollie Lyons, vorm mediese versorging nie deel van die opset nie, hoewel versorgers byderhand sal wees.
“Inwoners sal ook aangemoedig word om een ete in die eetsaal te nuttig,” het dr. Lyons gesê.
’n Binnehof met ’n tuintjie en afsonderlike ingang word in die vooruitsig gestel, waar familielede hul geliefdes kan besoek.
Volgens die bestuurder, Sanpat Coetzee, is mense reeds geïdentifiseer wat hul intrek kan neem.
Die openingseremonie word vir Maandag 1 Augustus beplan.




