Plaaslike buurtwagte deel in AfriForum-noordstreek se nasionale patrollie
Die AfriForum Valke Buurtwag op Delmas, die AfriForum Argent Plaaswag, sowel as die Bronkhortspruit-tak het deel uitgemaak van die nasionale patrollie.
Die AfriForum-buurtwagte in Gauteng, Limpopo en Mpumalanga het in samewerking met die polisie, die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), gemeenskapslede, verskeie sekuriteitsmaatskappye en veiligheidsinstansies, ’n massapatrollie op Vrydag, 8 Julie in hul onderskeie gebiede uitgevoer om polisiëringsigbaarheid te skep.
Die aksie het omstreeks 18:00 begin en tot 06:00 die volgende oggend geduur.
Honderde AfriForum-lede en ander instansies het deelgeneem aan hierdie inisiatief en bygedra tot die sukses daarvan.
Ook in eie geledere het AfriForum-buurt- en plaaswaglede aan die nasionale patrollie deelgeneem.
Die AfriForum Valke Buurtwag op Delmas, die AfriForum Argent Plaaswag, sowel as die Bronkhortspruit-tak het deel uitgemaak van die nasionale patrollie.
In Gauteng, Limpopo en Mpumalanga het 618 patrolleerders altesaam 33 083,25 km in 212 voertuie afgelê.

Die doel van die nasionale patrollie is om gemeenskappe teen misdaad te mobiliseer, om hoë sigbaarheid te handhaaf en om samewerking tussen veiligheidsrolspelers op plaaslike vlak te verbeter.
Die buurtwagte het gedurende die patrollie op altesaam 41 voorvalle gereageer.
Daar is onder meer hulp verleen tydens ’n bevalling, ses verdagtes is in samewerking met die polisie in hegtenis geneem en daar is ondersteuning gebied op die tonele van 17 motorongelukke.
“Dit is baie duidelik uit die voorvalle wat ons saam met statutêre rolspelers hanteer het dat samewerking op grondvlak noodsaaklik is.
“Dit is verder ook mooi om te sien hoe verskillende gemeenskappe teen misdaad saam staan.
“Omdat ons almal hierdeur geraak word, kan ons nie anders as om saam te werk nie.
“Daar is plek binne ’n buurt- of plaaswag vir elke lid van die publiek en die oomblik wanneer iemand sy rol binne die struktuur kry, dra daai persoon by tot die weerbaarmaking van ’n gemeenskap,” het
Llewellynn Hemmens, AfriForum se hoof van veiligheid in die noordstreek, gesê.




