Delmas-gemeenskap bring Ego Eimi op planke
Uit die hart en pen en onder die ervare leiding van Elna Schoeman en met meer as 100 deelnemers vanuit die plaaslike gemeenskap het hierdie belangrike deel van die kerk se geskiedenis ’n werklikheid op die verhoog van die NG Gemeente Wes op Delmas geword.
Na byna ’n halfjaar se oefening, baie ure se harde werk en opoffering het die Delmas gemeenskapsteater se kragtige verhoogproduksie, Ego Eimi (Ek is), in plek geval.
Die eerste opvoering was op Donderdag, 15 September en daar is daaglikse vertonings wat tot Sondag, 25 September voortduur.
Uit die hart en pen en onder die ervare leiding van Elna Schoeman en met meer as 100 deelnemers vanuit die plaaslike gemeenskap, het hierdie belangrike deel van die kerk se geskiedenis ’n werklikheid op die verhoog van die N.G. Kerk Wes-gemeente op Delmas geword.
’n Groot span het agter die skerms gewerk om die produksie suksesvol op die planke te bring.
LEES OOK: Delmas se buurtwag dra die veiligheid van seniorburgers op die hart
Dié span het hoofsaaklik bestaan uit die sentrale komitee, rekwisiete, die tegniese span, die verhoogspan, die stelbouers, die garderobe en natuurlik moes die produksie ook bemark word.
Daar was selfs ’n span wat vir die verversings rondom pouse gesorg het. Die produksie het die boodskap van geskiedenis van die openbaring van die sewe briewe aan die sewe gemeentes van Klien Asië gedra.
Met kort, maar boeiende tonele is belangrike hoogtepunte uit die kerk se geskiedenis vanuit die sewe briewe aan die gemeentes uit Openbaring twee tot drie op die verhoog uitgebeeld.
Die toneelstuk het afgeskop met die oorhandiging van die briewe. Tonele van die kerk van toe en die hedendaagse moderne kerk in die vorm van die Esperantzo Gemeente van 2022 het mekaar opgevolg.
In vergelykende en afwisselende tonele het die Bybelse tye van die kerk se bestaan en geskiedenis, sowel as die moderne tye op die verhoog lewe gekry.
LEES OOK: Jealous boyfriend sentenced for life in the Delmas High Court
“Net soos toé is daar vandag ook die terugval van sommige gelowiges, die gelowiges wat met een been naby aan die Here, maar met die ander been in die wêreld staan, diegene wat hul geloof verlaat het, diegene wat daardie ekstra myl vir die Here loop en selfs vandag nog word baie gelowiges vir hulle geloof veroordeel en selfs doodgemaak,” het Schoeman gesê.
“’n Relevante en tydige boodskap vir die kerk van vandag.”
Schoeman het verder gesê dat die produksie reeds in 2020 op die planke moes gekom het, maar weens die Covid-19-pandemie was dit nie moontlik nie. Dit het haar egter twee jaar meer gegee om haar intensiewe navorsing voort te sit tot en met die eind- opvoering in 2022.
Dit is egter nie Schoeman se eerste aflewering van ’n uitstekende verhoogstuk nie.
Sy het reeds vele meer die lig laat sien. Die mees onlangse was Die Houtkruis wat in 2016 ook op Delmas opgevoer is.
“Dit is ’n vierjaarlikse instelling. Sommige van die ou hande vanuit die gemeenskap het reeds in hul vierde keer aan so ’n produksie deelgeneem. Daar is egter ook baie nuwe spelers.”
Schoeman het almal wat Ego Eimi moontlik gemaak het, bedank.
“Elke deelnemer het baie ure opgeoffer om te oefen. Sowat 70% van die deelnemers is werkende mense, tog het hulle gereeld geoefen om die nege opvoerings moontlik te maak.
“Aan elkeen wat op en af van die verhoog so hard gewerk het, wil ek my opregte waardering uitspreek. Sonder elkeen van julle sou Ego Eimi nie ’n werklikheid kon word nie.”
“Dit was en is ’n baie eerlike produksie. My taak was om mense te laat glo in dit wat hulle op die verhoog moes uitbeeld. Die produksie moes deelnemers en gehore van die geestelike waarde van die opvoering oortuig.”







