Helen Ellis van Standerton se planne vir die Weskus is agtermekaar
Helen het sowat 40 jaar op Standerton gewoon en aan bykans elke gemeenskapsaktiwiteit deelgneem.

Helen Ellis trek haar tentpenne uit en verhuis na Lambertsbaai, hoewel ’n paar terugritte wag en ’n betrekking in Gauteng.
Lambertsbaai is waar haar dogter, Kathleen en eggenoot Morné, reeds woon met ’n woonstel geskik vir dié pensionaris.
Helen het sowat 40 jaar op Standerton gewoon en aan bykans elke gemeenskapsaktiwiteit deelgneem en haar prestasies op die sportveld het gereeld die koerantagterblad gehaal.
Dié omgewingsbewuste vrou wat destyds van ’n wildreservaat op Sabie Sabie opgedaag het, is ook grootouer van haar een seun, Michael en sy vrou Chantelle se twee seuntjies, Levi en Logan, terwyl die jonger Richard en Maggie se eersteling eersdaags opdaag.
LEES OOK: 47 hengelaars vang 158 vis by Grootdraaidam
Helen gaan in Germiston wees om hand by te sit as die dogterjie haar eerste lewenslig aanskou.
Sy het onlangs as skut die nasionale kompetisie in Bloemfontein bygewoon en beplan juis om teen Januarie volgende jaar, genoeg punte op te stapel om te kwalifiseer vir volgende jaar se kampioenskap.
Edelvalk-tak het ook van haar vaardighede as baanoffisier gebruikgemaak en die praatjies oor bedreigde spesies, het by die skietbane ook hul regmatige plek gekry en aanklank gevind.
Daar is deur die jare oral oor uilkaste opgerig en die gholfbaan spog ook met een. Haar entoesiasme vir die sport is lank nie verby nie.
“As geweerinstrukteur, wil ek wil mense help om hul bevoegdheid te kry,” het sy gesê.
Helen het kinders grootgemaak, bejaardes verpleeg, jomg kindertjies leer lees en les bes, Engels, Afrikaans en Zoeloe vir die gr. 4’s by Stanwest Combined School gegee.
Die motorhandelbedryf op Standerton was egter waar sy vir 33 jaar haar brood en botter verdien het.
Dié ondervinding sal nuttig te pas kom by haar nuwe, tydelike pos as kredietkontroleur by ’n maatskappy in Sandton, Johannesburg.
Sy het reeds ’n perd, Maya, gekoop wat saam met haar die strand op die Weskus sal platstap.
“Twee pensioenarisse sal die 4km van die see af kan baasraak,” het sy tong-in-die-kies laat val.
Sy het menige dae om 17:00 gesorg dat Athena en Arwin, haar perde op die dorp, versorg word, om nie te praat van Lily en Felix, die katte wat ook na gekyk moes word. Haar lammers, hoenderhane en kuikens in die agtertuin sal nou in die bekwame hande van haar familie wees.
Helen het vir sowat 12 jaar in Hulda Jacobs se Viva Canto-koor gesing en aan verhoogproduksies van klubs soos die Lions en Round Table deelgeneem. Sy het destyds die Nouveau-tak van die VLU geloods en na sy ontbinding, by die Vaalrivier-tak aangesluit.
Op spirituele vlak, het sy Sondagskool by die Baptiste Kerk gegee en het hand bygesit by die ouetehuis as daar nood was, hetsy toilette skoonmaak of naels knip en hare kam. Dissipline is vir dié veelsydige vrou allerbelangrik.
’n Nomadiese leefstyl gaan haar soos ’n handskoen pas omdat sy haar vryheid hoog ag.
LEES OOK: Water levels at Grootdraai Dam in Standerton steadily dropping



