Local newsNews

Delmas VLU-tak hou prettige pienk piekniek

“Ons beplan ook om ’n geelhoutboom op die terrein van die Hervormde Kerk te plant. Dit vorm deel van die tak se projek van die jaar rondom die tema; ‘Ons glo in Môre’.”

Die Delmas se VLU-tak moes hul vergadering met ’n volle week aanskuif, maar dit het geen afbreuk aan die afwagting en opwinding gemaak nie.

Die vroue het op Dinsdag, 27 September in die saal van die Hervormde Kerk op Delmas byeengekom vir hul maandelikse vergadering en leersame klasaanbieding.

Kompetisie-artikels is ingehandig waarna die vroue ’n prag-pienk-piekniek geniet het.

“Hierdie piekniek was die blink idée van Carin Uys en Jané Oosterhuis,” het Magriet Swart, skakelbeampte, gesê.

Die lede het daarna vir die vergadering nader geskuif.

Die voorsitter, Marié Terblanche, het die kompetisie-beoordelaar, Elsie Bredenkamp, en ander spesiale gaste, Tonnie van der Laan, Adele Viljoen en Christine Keeny, verwelkom.

Uit die korrespondensie was daar ’n bedankingsbrief van Elna Schoeman.

Hierin het Schoeman die Delmas VLU-tak bedank vir die ete wat hulle aan die deelnemers van die gemeenskapsteater, Ego Eimi, verskaf het.

’n Spesiale dank is aan Adriaan Swart en Andries Vermaak vir die braai van die wors oorgedra.


LEES OOK: Alna Kapp van Standerton is voorbereid vir nuwe uitdaging


Onder lief en leed, het die lede hul dankbaarheid betoon saam met Susan Cronjé oor haar man, Piet Cronjé, se herstelpad ná sy beroerte.

Tydens die plaaslike taknuus is die uitstappie na ’n byeboerdery bespreek, asook die SAVF-verkoping ten bate van Ons Eie Ouetehuis op Delmas.

“Ons beplan ook om ’n geelhoutboom op die terrein van die Hervormde Kerk te plant. Dit vorm deel van die tak se projek van die jaar rondom die tema; ‘Ons glo in Môre’,” het Swart verduidelik.

In dié tak se streeknuus is die VLU Carpe Diem (Witbankstreek) se konferensie en jaarvergadering bespreek.

“Dié geleentheid word volgende jaar op Delmas aangebied. Die VLU is ’n niewinsgewende organisasie en borge word benodig om van dié groot geleentheid ’n sukses te maak.

“Daar word tans vir 80 mense begroot. Enige bydrae sal hoog op prys gestel word,” het Swart ook gesê.

Die kongres van VLU-Mpumalanga wat op 14 en 15 September plaasgevind het, is onder die afdeling vir provinsiale sake bespreek.

Die nuwe president, Alna Kapp, en haar adjunk, Alice de Beer, is op dié kongres verkies. Die VLU se Kunstenaar van die Jaar, Rocco de Villiers, het die kongresgangers met sy pittighede en meesterlike klavierspel vermaak.

Die persoonlikheid van die Jaar, Jan Hendrik van der Westhuizen, het op sy beurt sy lewensverhaal gedeel. Hy is die eerste Suid-Afrikaanse sjef wat die gesogte Michelin Star-toekenning verower het.


LEES OOK: Standerton Water Treatment Plant can’t cope with demand


Christine Keeney van Serenities, Boksburg-suid, het na die maandelikse formaliteite die vroue in die fynkuns van hars touwys gemaak.

Die mengverhoudings, verlangde intensiteit en kreatiewe kleurvermengings is aan die vroue gedemonstreer.

“Ons nooi weer alle vroue vanaf 18-jarige ouderdom om te kom aansluit. Kom wees gerus deel van die bevrediging van kreatiwiteit en leersaamheid op ’n gesellige wyse,” het Swart afgesluit.

Belangstellendes kan vir Marié Terblanche by 083 968 2203 kontak.


At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button