Manne van staal met harte van goud gee groot vir Delmas Diereskuiling
Die brullende ysterperde het op Saterdag, 1 Oktober by die Willowbrooke Square-winkelsentrum bymekaargekom om broodnodige hondekos af te laai.
Die twee vroue aan die stuur van die Delmas Diereskuiling is bekend vir hulle passie vir diere. Die twee stemme agter die hawelose diere by die Delmas Diereskuiling is Jorinda en Jolandie Verwey.
As ’n geregistreerde niewinsgewende maatskappy (NPC 2018/275291/08) is die skuiling konstant in nood vir dierekos, komberse en medisyne om hul groot hoeveelheid diere, wat honde, katte en plaasdiere insluit, op ’n daaglikse basis te voed.
Die Dukes of Steel Motorfietsklub van Benoni het daarom besluit om skuiling te help.
Die brullende ysterperde het op Saterdag, 1 Oktober by die Willowbrooke Square-winkelsentrum op Delmas bymekaargekom om broodnodige hondekos af te laai.
Jorinda het Streeknuus meegedeel dat hulle tans sowat 320kg hondekos per week gebruik.
Met Jorinda en Jolandie se aankoms by die winkelsentrum moes hulle boonop met ’n skok agterkom dat iemand bulterriër-babahondjies vanaf die sypaadjie smous.
LEES OOK: 47 hengelaars vang 158 vis by Grootdraaidam
Daar is vinnig gereageer en die twee hondjies is deur lede van die motorfietsklub aangekoop.
“Dit is onwettig om babahondjies te verkoop. Hulle is nie gesteriliseer nie en die spesifieke honderas word soms aangekoop met die uitsluitlike doel om in hondegevegte gebruik te word. Ons is dankbaar vir die manne wat waarskynlik tot die hondjies se redding gekom het.”
Uit navrae het dit geblyk dat die eienaar van die honde nie bewus was van die wet op die verkoop van babahonde nie.
Na afloop van die reddingspoging was dit tyd om die broodnodige voorraad aan die skuiling te oorhandig.
Die oorhandiging is deur die president van die Dukes of Steel, Hoffie Hofmann, waargeneem.
Die eienaar van Pick’n Pay op Delmas, Celso dos Santos, het ook sy deel bygedra en die Dukes of Steel se skenkings is vinnig aangevul.
LEES OOK: Helen Ellis van Standerton se planne vir die Weskus is agtermekaar
“Ons wil met dankbare harte vir ons engele op hul ysterperde bedank vir hul omgee en donasie. Nie net het hulle broodnodige kos vir ons dierekinders al die pad van Benoni af gebring nie, hulle het boonop ook vir die twee bulteriër-babas goeie huise gegee.
“Baie dankie ook aan Celso dos Santos vir die gebruik van die sentrum se parkeerterrein en sy bydrae tot die skenking,” het Jorinda gesê.
Die Verwey-vroue het Streeknuus meegedeel dat die dood van dr. Jesse Coleman, ’n direkteur van die diereskuiling, vir hulle baie hartseer en ’n groot verlies is. (Streeknuus 30 September)
“Ons het met ’n groot skok van dok Jesse se dood verneem. Hy was nie net ’n direkteur op die raad nie, sy hart en siel was by die skuiling. Ons kon altyd op hom staatmaak en hy het ongelooflik baie bystand gebied.”
As die publiek ’n bydrae wil maak tot die daaglikse versorging van die diere by die skuiling, kan die eienaars op 066 613 1048 of 076 808 6684 geskakel word.










