Local newsNews

Skade na brand by meenthuis by ouetehuis op Standerton

“Ons is dankbaar dat oom Hansie betyds uitgekom het en dat geen ander inwoner beseer is nie.”

’n Meenthuis in Kosmos Aftree-oord was vroegoggend Donderdag 6 Oktober in ligte laaie.

Die inwoner, oom Hansie van Rensburg, kon daarin slaag om uit die verwoestende vlamme na buite te gaan.

Oom Hansie is dieselfde oggend in Mar-Peh Medikliniek opgeneem en as voorsorgmaatreël vir skok, rookinaseming en ligte brandwonde behandel.

’n Sorgwerker het hom na die hospitaal vergesel. Volgens Sanpat Coetzee, bestuurder, word vermoed dat die brand omstreeks 04:45 ontstaan het.

Die wooneenhede se noodknoppies is aan die sorgsentrum gekoppel waar personeel 24 uur aan diens is.


LEES OOK: 


Hulle het die brandweerdienste eerste gebel en daarna vir Kasselman Veiligheidsdienste (KVD), wat op hul beurt ook met die brandweerdienste in verbinding getree het.

Oom Hansie se buurvrou, Elize Luus, het ook alarm gemaak. Volgens ’n WhatsApp-boodskap van Jannie Kasselman, was nooddienste en die brandweer om 05:53 op die toneel om bystand te verleen.

KVD en die brandweer het die vuur geblus. Coetzee het gesê dat al die eenhede brandblussers het en dat dit gereeld getoets word, maar dat die vuur vinnig gebrand het.

“Dié meenthuis is genadiglik losstaande én daar was nie wind nie, wat waarskynlik daartoe bygedra het dat die vlamme nie na ander meenthuise versprei het nie.

“Ons is dankbaar dat oom Hansie betyds uitgekom het en dat geen ander inwoner beseer is nie.”

Die reuk van rook het nog om 10:00 om die meenthuis gehang en die verwoesting binne was opvallend.

Die Standerton Advertiser is gemaan om versigtig te wees omdat smeulende, warm elektriese drade nog in die woonvertrek was.

Die versekeringsmaatskappy is gekontak om hul aanbevelings vir die herbouing te kry.

Oom Hansie se rookdeurdrenkte klere het buite in hopies gelê en ’n oefenfiets het sleg deurgeloop.

“Ons harte gaan uit na Oom Hansie en sy broer, oom Casper, wat albei erg geskok is,” het sy bygevoeg.

Familie en vriende het van oraloor opgedaag om veral oom Casper by te staan en te help met die opruiming.

“Die regte mense was op die regte tyd daar,” het Coetzee mee afgesluit.

“’n Woord van spesiale dank aan Kasselman Veiligheidsdienste, die brandweer, personeel en inwoners wat kop gehou het.”

Die oorsaak van die brand is nog onbekend.


LEES OOK: Evander Regional Court postpones serial rape case against teacher


At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button