Willie van Molendorff vier 96ste jaar op Cullinan
Hy het vir 44 jaar vir die myn op Cullinan gewerk voor hy ’n voltydse boer in die omgewing geword het.
Willem Petrus van Molendorff (Willie) het op 6 Oktober die rype ouderdom van 96 jaar geword.
Hy is op Cullinan gebore en woon steeds daar saam met sy vrou, Susan (87). Oom Willie het 67 jaar gelede aan Susan, wie as ’n nooi Jacobs gebore is, trou beloof. Die egpaar het drie dogters en ’n seun.
Oom Willie, ook die enigste seun van Johan en Anna van Molendorff, moes as kind van Rietfontein (Rayton) af skool toe stap tot by Laerskool Cullinan voordat hy in latere jare ’n donkie gery het.
Hy het uiteindelik ’n tweedehandse fiets gekry.
“Dit het maar swaar gegaan in sy jare voor skool. Daar was nie geld nie. Oupa Johan het in die Rayton-omgewing met beeste en groente geboer om so vir die gesin te kon sorg,” het die Van Molendorff-egpaar se dogter, Trienie Botes, vertel.
Tydens die depressie in 1933, het Willie by ’n gesin op Rayton losseer waar hy botter moes smelt voor dit op die brood gesmeer is om geld te spaar.
“Wanneer Pappa dit vertel, raak hy baie emosioneel wat beteken dat dit traumaties was,” het Trienie bewoë gesê.
Ná Oom Willie destyds Standard 6 (vandag gr.8) voltooi het, het hy by die tegniese college op Cullinan ingeskryf.
Hy het in Desember 1942 op die jong ouderdom van 16 by sy eerste en enigste werk by die Premier Myn op Cullinan begin.
Hier het hy vir 44 jaar in verskeie poste gewerk voordat hy afgetree en ’n voltydste boer geword het.
“As dogter, onthou ek soveel wonderlike dinge,” het Trienie vertel.
“Hy het my geleer lag, om hard te werk, om nederig te bly, ander mense met respek te behandel en dat God die belangrikste is.”
LEES OOK: Councillor of Ward 105 in City of Tshwane dies in car accident



