Local newsNews

Man verskyn in hof op Standerton vir brandstigting

Phillip van Rhyn (35) het op Vrydag 14 Oktober in die Standerton Landdroshof verskyn in verband met die voorval.

’n Afgebrande huis, ’n vermeende brandstigter, ’n familie wat traumaberading ontvang, enorme skade en beweerde polisieversuim maak deel uit van ’n onlangse voorval op Standerton.

Phillip van Rhyn (35) het op Vrydag 14 Oktober in die Standerton Landdroshof verskyn in verband met die voorval.
Die saak is na 19 Oktober uitgestel waartydens ’n borgtogaansoek aangehoor sal word.

’n Eskom-huis in Kosmospark het op Woensdag 12 Oktober in ligte laaie gestaan nadat ’n brand uitgebreek het.

Die huis was deur die Greyling-egpaar, Frik en Elize, bewoon tot tyd en wyl sake vir hul nuwe woning op Secunda afgehandel is.

Die oordragkostes is reeds betaal en hulle wag op die aktekantoor. Hul dogter, Lelanie en haar sesjarige dogtertjie, het ook in die huis gebly.

Nie een van die familie was ten tye van die vuur in die huis nie. Na bewering is Lelanie se klere aan die brand gesteek en Jéan Greyling, haar broer, het onraad vermoed.

Jéan het reeds die vorige aand sy mense kom haal en na sy huis in Meyerville geneem. Almal het die Dinsdagaand by Jéan-hulle oornag, die ouers in ’n woonwa op die erf.

“Dit was ’n bestiering,” het hy gesê.

’n Buurman het Frik Greyling gebel waarna sy vrou vir Jéan gebel het.

Volgens Jéan het die Standerton Polisie nie aanvanklik werk van die saak gemaak toe hulle om hulp genader is nie.

Hulle wou die vermeende brandstigter op ’n aanklag van vrouegeweld in hegtenis laat neem. ’n Vriendin van Lelanie het die polisiestasie besoek.

Die polisieman aan diens het na bewering gesê hulle kan niks doen alvorens die vermeende brandstigter die huis afbrand nie.

Die Standerton Advertiser het in verbinding getree met kapt. Gibi Mtsweni, kommuniksiebeampte, om die bewering te staaf.

Kapt. Mtsweni het geantwoord dat die saak teen die polisieman ondersoek word.

Standerton Brandweerdienste was vinnig op die toneel en volgens Jéan het hy, nadat die nuus van die brand verneem is, van Meyervile gery.

“Ek het tussen 05.50 en 05:45 gery en toe ek in Kosmospark opdaag, was die brandweer op die toneel,” het Jéan gesê.

Hy het die brandweer lof vir hul optrede toegeswaai. ’n Assessor het op 13 Oktober skadeberaming begin bepaal.

Die kombuis, sit- en eetkamer is rookgevuld en die yskaste en vrieskaste het sleg deurgeloop. Volgens Jéan is die yskaste en vrieskaste omgegooi.

’n Gasbottel het nie aan die brand geslaan nie en ’n lang ‘firefighter’, is na bewering gebruik om die bed in een slaapkamer aan die brand te steek.

“Die huis moet van sy fondasies opgebou word,” was Jéan se mening.

Van Rhyn is in ’n buitekamer in Kosmospark aangetref nadat hy op die vlug geslaan het en die polisie het hom in hegtenis geneem.

Hy gebruik na bewering Skedule 5-medikasie.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button