Silwerjare hou algemene jaarvergadering op Bethal
Mense verkies dieselfde bestuurspan by algemene jaarvergadering.
BETHAL – Silwerjare Ouetehuis het op Donderdag, 29 September, hul algemene jaarvergadering by die N.G. Kerk Bethal-Oosgemeente gehou en die bestuur het verslag gelewer oor die afgelope jaar.
Ds. Johan Greyling van die Hervormde Kerk het die vergadering geopen en ds. Evert Bergh en sy vrou, Ranelda Bergh, het ’n sangvertoning gelewer.
Marla Louw, ’n maatskaplike werker van Helpende Hand in Mpumalanga, het oor die belangrikheid van emosionele gesondheid van ’n vrywilliger gepraat.
Sy het gesê dat dit belangrik is om na jouself te kyk as jy na ander wil omsien.
LEES OOK: Social workers in eMbalenhle warn parents not to use children
Hennie Jordaan, voorsitter van die diensbestuurspan, het sy jaarverslag ingedien en gesê die span vorder goed om die lewe vir inwoners te verbeter deur solarligte te installeer om lig buite te voorsien tydens kragonderbrekings.
“Ons het ook ’n groot watertenk aan die hoofgebou en woonstelle gekoppel wat sal help met die spoel van toilette as daar nie watertoevoer is nie,” het Jordaan gesê.
Die diensbestuurspan gaan aandag gee aan die dimensie-afdeling van die ouetehuis.
AfriForum het uitgereik na Silwerjare en kameras op strategiese plekke aangebring om dit veiliger te maak vir inwoners.
Silwerjare het ook onlangs begin om sonpanele, omskakelaars en batterye aan te bring by die administratiewe gebou.
LEES OOK: There is help in Secunda for people struggling with PTSD
Jordaan het gesê al dié verbeteringe is moontlik gemaak deur Silwerjare se donateurs en hy het hulle bedank vir hulle ondersteuning.
“Die diensbestuurspan en die vrywilligers, asook die personeel, het goeie werk gedoen die afgelope jaar, baie dankie.”
Magriet Scholtz, bestuurder van Silwerjare het ook haar verslag voorgelê en Henriëtte van Staden, Silwerjare se streekbestuurder, het Scholtz vir haar goeie werk bedank en gesê Silwerjare is ’n voorbeeld vir ander ouetehuise.
Dieselfde bestuurspan is weer verkies met die uitsondering van Fatima Danka wat nie weer op die bestuur dien nie omdat sy verder studeer.
Sy bly egter aan as vrywilliger. Jordaan se grootste uitdaging is om die gemeenskap meer betrokke te kry by Silwerjare.
“Sonder die gemeenskap sal die voortbestaan en volhoubaarheid van Silwerjare in die spervuur wees,” het Jordaan gesê.
Hy het dié mense van die gemeenskap wat reeds betrokke is by Silwerjare bedank en gesê dankie is nie eers ’n groot en sterk genoeg woord om die SAVF Silwerjare Ouetehuis se waardering weer te gee nie.



