Local newsNews

Gevaarlike R50-pad eis vragmotor vol hoenders

Daar was vinnig ingespring om hulp te verleen. Erg beseerde of verminkte hoenders was dadelik van kant gemaak en die oorlewendes was weer in die kratte gelaai.

Die eens geteerde R50-steenkoolroete is nou ’n baie nou grondpad. gesaai met diep gate en plek-plek steil hellings en afgronde na albei kante.

’n Vragmotor vol gelaai met kratte hoenders wat bestem was vir die slagpale, het op 29 Oktober omstreeks 10:00 op dié pad omgeslaan.

Dit blyk dat die vragmotorbestuurder digby die ingang van Daybreak, teen die skuins helling beheer oor sy vragmotor verloor het. Die vragmotor is van die pad af en het omgeval.

Die ongelukstoneel is gekenmerk deur vreemde verleggings, diep afgronde na links, asook poele water wat aan ’n kleinerige swembad herinner.

Werknemers van Astral Foods, sowel as voorlaaiers en ander vrywilligers was met Streeknuus se aankoms op die toneel reeds druk besig om die kratte met hoenders regop te bring om so min as moontlik trauma te veroorsaak.

Astral Foods se groep-bedryfshoof, Gary Arnold, het Streeknuus meegedeel dat die maatskappy se hoofdoel juis was om so gou as moontlik die hoenders enige verdere trauma en beserings te spaar.

“Ek self het met die DBV in aanraking gekom ten einde die nodige protokol te volg en professionele hulp op die toneel te kry.”

Kort na die ongeluk het die DBV van Springs aangekom. Daar is vinnig ingespring om hulp te verleen.

Erg beseerde of verminkte hoenders is dadelik van kant gemaak en die lewendige hoenders is weer in die kratte gelaai.

“Ek het na die tyd na die videomateriaal gekyk en die pad is werklik baie gevaarlik. Die vragmotor het by die skerp skuinste afgegaan en weens die gewig van die vrag, het die wa omgekantel. Dit was ’n ongeluk, net dit. Die videomateriaal het egter ook aangedui presies hoe moeilik dit is vir enige voertuig om die R50-pad veilig te gebruik.

“Ons maak van buitekontrakteurs gebruik vir die vervoer van ons lewende hawe. Die bestuurders kry goeie opleiding en daar word voortdurend bewustheid by hulle gekweek dat hulle lewendige diere vervoer. Die welsyn van die lewendige diere geniet top prioriteit binne ons maatskappy,” het Arnold bygevoeg.

Die brandweer sowel as die polisie was op die toneel. Daar was egter geen lede van die verkeersdepartement teenwoordig nie.

Weens die aard van die ongeluk, moes verkeer herlei word en kon daar slegs van een baan op die slegte grondpad gebruik gemaak word.

Plaaslike buurtwaglede het bygestaan met verkeerbeheer om te voorkom dat nog ’n ongeluk plaasvind.

Streeknuus het gepoog om met die nodige owerhede, rakende die uiters gevaarlike toestand van die R50, in kontak te kom.

Teen druktyd kon daar egter nog geen uitsluitsel gegee word oor die afwesigheid van enige kontrakteurs op die gevaarlike stuk pad nie.

Daar is wel aanduidings gegee dat die moontlikheid om die pad vir verkeer te sluit, oorweeg word, maar die inligting kon teen druktyd nie bevestig word nie.


At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button