Delmas-Wes Familiekerk verwelkom ’n vars nuwe briesie op die preekstoel
“Onortodoks en buite-die-boks is dalk ’n goeie beskrywing vir dit wat besig is om te ons gemeente te gebeur, maar om ’n God soos groot soos ons s’n te probeer boks is volgens my opinie uiters onwys.”
Volgens haar moes sy al van die seerste storms in die gesig staar en deurgaan, maar het deur alles aan God bly vasklou. Dit is Leandi Cottle, die nuwe diensleraar op Delmas.
Cottle is in Upington gebore en het in Kimberley opgegroei. Sy het in 2006 aan Hoërskool Diamantveld as een van die top studente in die Noord-Kaap, gematrikuleer.
“Daarna het ek tot die besluit gekom dat ek my passie wou uitleef en het ek drama gaan studeer,” het Cottle gesê.
In 2009 het sy haar dramagraad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Cottle is intussen getroud, maar haar eerste man is in 2016 oorlede.
Cottle het gesê dat sy skielik moes kies tussen lewe en dood. “Ek kon nie anders as om te lewe nie, en dit in oorvloed te doen nie.”
“Gebreek het ek aan God vasgeklou, en steeds bo dit alles kan my lewe net getuig van ’n Lewende Hoop, Jesus Christus.”
“Waar my CV eens van prestasies en toekennings oorgeloop het, het God dit in ’n CV, waarin vandag slegs my oorheersende liefde vir Hom staan en ’n hartsbegeerte om Hoop vir Sy kinders te bring, verander.”
Volgens Cottle het sy as aanbiddingsleier altyd die passie gehad om die Here te aanbid. In 2018 is sy voltyds tot die bediening geroep. Sy het toe haar nagraadse teologie diploma by die ‘South African TheologicalSeminary’ gedoen.
“Ek het nog nooit weer omgekyk nie en om te dien in Sy Koninkryk is waarlik my lewensroeping,” het Cottle bygevoeg.
Cottle is intussen weer getroud met Schalk Cottle, ’n bekende boer van die omgewing. Die paartjie het twee seuns, Schalk (14) en Caleb (2).
Sy voel dat haar aanstelling by Delmas-Wes Familiekerk werklik deur God georkestreer is.
“Ons beleef reeds Sy hand in elke aspek van die proses.”
“Onortodoks en buite-die-boks is dalk ’n goeie beskrywing vir dit wat besig is om te ons gemeente te gebeur, maar om ’n God so groot soos ons s’n te probeer boks, is volgens my opinie uiters onwys.
“Hy is die God wat juis die onmoontlike moontlik maak en dit is presies wat Hy met my aanstelling kom doen het,” het Cottle ook gesê.
Cottle het verder gesê dat hulle as ’n gemeente opgewonde oor die pad vorentoe is en verseker is dat dit wat voorlê groot dinge vir die gemeente gaan inhou.
“Ons droom dalk selfs oor ’n dramaskool in die toekoms.”
“As gemeente het ons ’n kinderlike verwagting om te sien wat Jesus nóg in ons dorp kan doen, in eenheid én saam met ander gemeentes. Dis my hartsgebed dat ons gemeente ’n veilige hawe sal wees vir enige iemand wat smag na genesing, aanvaarding en ’n plek waar hul, nes hul is, kan behoort.”
“Ons wil God sigbaar maak en lééf in elke dag. Ons tema vir 2023 spreek juis dit waaroor ons droom aan. Ons is ’n rivier, ’n rivier van liefde, omgee, hoop, genesing, sagmoedigheid, voorsiening, genade en dit wat goed en mooi is, alles uit die Vader se hand,” het Cottle afgesluit.



