Local newsNews

Aresuan Swart van Standerton glo nie aan bakhand staan nie

Haar ure kan weekliks van 07:00 tot 21:00 strek en sy is heel gemaklik daarmee.

Aresuan Swart van Standerton het ’n werksetiek wat skrik vir niks. Haar ure kan weekliks van 07:00 tot 21:00 strek en sy is heel gemaklik daarmee.

“Ek is een van die min mense in die lewe wat doen wat hulle wil doen,” het dié naeltegnikus gesê.

“Dié besluit is reeds in gr. 2 geneem.”

’n Sny op haar middelvinger as jong dogtertjie het ’n gebreekte nael tot gevolg gehad, wat haar aangespoor het tot haar beroepskeuse.

Aresuan en haar man, Casper, het agt jaar gelede van Ermelo na Standerton verhuis nadat Casper by ’n mynmaatskappy afgelê is.

Die egpaar het by haar ouers, Jan en Maureen Wentworth, se motorhuis ingetrek en planne begin beraam om weer op hul voete te kom.


LEES OOK: VLU se Kaalspruit-tak op Standerton beraam planne vir volgende jaar


Skaars agt maande later het haar onderneming op die dorp se kasregister begin klingel.

Casper en Aresuan het mekaar 21 Desember 2007 by ’n kuierplek ontmoet en die daaropvolgende dag het Casper iemand, met ’n bestuurderslisensie, gesoek om saam met hom Johannesburg toe te ry.

Hy het haar om haar hand die Paasnaweek van 2008 gevra en die trouklokkies het November gelui.

Die huwelikseremonie het by die lapa in die Standerton Rivierpark plaasgevind.

“Ons kon dit daar hou voor dit afgebrand het.”

Aresuan het twee dogters, Tané uit ’n vorige huwelik en Mené wat deel van die pakket vorm.

“Ek het die beste pa in die wêreld getrou,” het Aresuan opgemerk.

Met die implikasies van die grendeltydperk se tweede jaar is ’n besluit geneem om die 10-jarige Mené aan tuisonderrig bloot te stel, terwyl die 17-jarige Tané ’n Georgie is.

Aresuan staan haar plek op die beheerraad van Hoërskool George Hofmeyr vol. Sy is egter ’n Vrystater al die pad van Kroonstad af en het by Sentrale Volkskool skoolgegaan.

Netbal in die verdedigende doelposisie was haar voorkeursport op skool.

“Ek hou nie van hardloop en sweet nie,” het sy tong-in-die-kies laat val.

Sy is van mening dat almal in haar bedryf, hoewel mededingend, wel ’n bestaan maak en ’n hoender in die pot in die aand kan sit.

“Ek het al met my slippers en pajamas kom werk. Inteendeel, ek het foto’s daarvan,” aldus Aresuan.

Haar lewensfilosie wentel om haar man en gesin se belange en groepie vriende.

Casper is die kok in die huis en berei die boeredissse met soetpampoen en boontjies voor.

As dit van haar afhang, sal sy gou ’n wegneemete optel. Aresuan het ook modelwerk in haar tienerjare gedoen en die loopplank bemeester.

Haar ambisie vir die volgende 10 jaar is om staande te bly en om oor 20 jaar ’n strandhuisie by die see te hê.

Dan sal sy met haar voete in die sand op die strand sit.

Ek wil jonk, gesond en gelukkig bly,” het sy mee afgesluit.

“Die lewe skuld niemand enigiets nie.”


At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button