Local newsNews

Nasionale intelligensie roep halt op onwettige mynbedrywighede op Eloff

Dit blyk dat die persele meestal uitverhuur word en dat eienaars glo onbewus sou wees van die onwettighede wat op hul eiendomme plaasvind.

Groot deubraak in onwettige mynboubedrywighede is verlede week op Eloff gemaak.

Tydens ’n suksesvolle operasie van nasionale intelligensie in samewerking met Sundra SAPD, verskeie veiligheidsmaatskappye, buurtwagte en individue is verskeie zama-zamas aangekeer.Volgens ’n lid van nasionale intelligensie wat verkies om anoniem te bly, het hulle (nasionale intelligensie) inligting oor die onwettige mynbedrywighede op Eloff ontvang.

’n Groep bestaande uit lede van nasionale intelligensie, ’n veiligheidsmaatskappy van Benoni en lede van mynveiligheid op Benoni het op Vrydag, 3 Desember op verskeie kleinhoewes op dié klein dorpie toegeslaan. (Betrokkenes by die operasie verkies om weens veiligheidsredes anononiem te bly).

Onwettige immigrante, vermoedelik betrokke by die onwettige mynbedrywighede op Eloff, het met nasionale intelligensie-lede se aankoms in alle rigtings laat spaander.

AfriForum se Eloff Buurtwag en AAA Sekuriteit het bygestaan om van die onwettige immigrante, wat vermoedelik op die persele gewerk het, in hegtenis te neem.


Onwettige mynbedrywighede is duidelik te sien op een van die persele op Eloff waar nasionale intelligensie toegeslaan het.

Hulp vanuit verskillende oorde het gou aangesluit en ten spyte van oop velde en baie wegkruipplek, is daar teen die einde van die operasie 20 vermeende zama-zamas in hegtenis geneem.

Verdagte nommer 20 is teen laatmiddag uit die varkhok op die perseel van Jerigo Oord, waar hy skuiling gesoek het, gehaal. Sommige moes egter glo vrygelaat word omdat hulle minderjarig is.

Teen druktyd het die Sundra Polisie bevestig dat 12 van die 20 wat in hegtenis geneem is, vir die oortreding op die Immigrasiewet 13 van 2002, aangekla sou word.

Geen verdere klagtes kon glo teen die verdagtes gebring word nie omdat hulle, ten tye van inghetenisname, nie besig was om onwettige dade uit te voer nie.

Daar is op verskeie kleinhoewes, sowel as by ’n huis op die dorp, op toerusting, wat gebruik word om die grondstof te suiwer en te verwerk, beslaggelê.


Onwettige mynbedrywighede by ’n woonhuis op Eloff.

Kaptein Linky Olckers, bevelvoerder van die Sundra Polisie, het bevestig dat waarde van die toerusting, insluitende ’n bakkie waarop daar beslaggelê is, sowat R835 000 beloop.

Die tonnemaat en waarde van die grondstof waarop daar tydens die operasie beslaggelê is, kon egter teen druktyd nog nie bevestig word nie.

Die grondstof word vanaf nabygeleë myne in veral die omgewings van Benoni, Brakpan en Springs gemyn en gesteel en na die persele op Eloff vervoer waar dit deur ’n lang en ingewikkelde proses gaan om die goudstof daaruit te verkry.

Weens die enorme skaal van die sloping van talle van die raffinaderye, het die gemeenskap bygestaan met hulp.

Inwoners het laaigrawe voorsien en die Sundra Bulldogs Buurtwag het ingespring en gehelp om een van die laaste onwettige strukture in die Drooggefontein-gebied te sloop.


LEES OOK: Reverend from Secunda butts heads with Govan Mbeki Municipality over maintenance


Dit blyk dat die persele meestal uitverhuur word en dat eienaars glo onbewus is van die onwettighede wat op hul eiendomme plaasvind.

Een so ’n eienaar, wat self etlike meters vanaf een van hierdie suiweringsaanlegte woon, het Streeknuus meegedeel dat hy op verskeie geleenthede gevra het dat die mense (huurders) sy perseel moet verlaat.

Hy het glo ook al die polisie gekontak, en dié het die perseel glo besoek, maar hy (die eienaar) het geen verdere terugvoer ontvang nie.

“Onwettige mynbedrywighede knou gemeenskappe en die ekonomie, en lei tot groot verliese aan inkomste vir die mynbousektor. Van die grondstof wat gesteel en verwerk word, is van baie hoë gehalte,” het ’n lid van die myn se sekuriteit Streeknuus ingelug.


LEES OOK: Robbery suspect who was wounded in shoot out with eMba and Secunda Police dies in hospital


Streeknuus is verder meegedeel dat daar meestal groot sindikate agter hierdie bedrywighede staan.

“Dit is baie duur om so ’n operasie op die been te bring en die persoon aan die bopunt van hierdie bedrywighede maak ontsettend baie geld uit die lot van hierdie, meestal onwettige, arbeiders.

“Ons maak hierdie persele skoon, verwyder onwettige elektrisiteitskoppelings en alle toerusting wat die onwettige bedrywighede tydelik kan halt. Ons maak dit net moeilik vir die mense om môre weer te kan terugkeer.

“Die kanse dat die bedrywighede weer oor ’n ruk kan begin, bestaan ongelukkig ook,” het ’n lid van nasionale intelligensie aan Streeknuus gesê.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button