Sasol Rugbyklub klop Impalas in Gold Cup
Manne in blou wen hul eerste wedstryd met 58-17.
Die Sasol Grip & Rip Rugbyklub van Secunda het geseëvier in hul eerste wedstryd van die African Rainbow Community Gold Cup wat Saterdag op hul tuisveld plaasgevind het.
Die span het die Rustenburg Impalas, voormalige kampioene, met 58–17 geklop.
Die benoude oomblik toe die Impalas se oopkantflank, Ivan Sonnekus die eerste drie van die wedstryd gedruk het en dit deur hul losskakel Trevor Visser verdoel is, was van korte duur.
Die Sasol-masjien het ingeskop met ’n drie deur Steyn van der Heever, toekantflank. “Dis alles in die mullet,” het sy spanmaats laat weet.
Heelagter Francois Myburg het die drie verdoel.

Dwayne Lake in die nommer 5-trui het hierna die bal wat tussen die Impalas aangestuur is, onderskep en ’n drie in die hoekie gaan druk.
Losskakel Pieter van Niekerk en haker Ruan “Rocky” Groenewald wat die span as kaptein aangevoer het, het kort hierna elk vir ’n drie gesorg voor die Impalas se agsteman, Joe Engelbrecht, sy span se laaste drie gedruk het.
Rustenburg het ook met ’n strafdoel geslaag. Die rustydtelling was 26–17 in Sasol se guns. Met onverpoosde aanvalle en sterk verdedigingslyne in die tweede helfte, het die manne in blou hul oorwinning verseker.
Myburg het die eerste punte met ’n strafdoel aangeteken, gevolg deur skrumskakel Dalton Smit se eerste drie.
Smit het binne minute weer ’n drie gedruk toe ’n Impala se kort skoppie die bal oor die doellyn gestuur het en Smit daarop gaan val het.
LEES OOK: Models from Secunda excel at Evocative Brand competition
Binnesenter Theuns Kruger het hierna in volle vaart teen die oorkantste kantlyn afgeblits om vir ’n drie in die hoekie oor te duik.
Jong Warren Moolman op buitesenter het toe vir ’n drie aan die beurt gekom.
Kruger het die laaste punte besorg met ’n skouspelagtige hardloop-drie wat hy onder die pale gaan plant het.
Dalton Smit is as die speler van die wedstryd aangewys.
Sasol se volgende wedstryd word in Limpopo beslis en ’n wen daar, kan ‘n volgende tuiswedstryd verseker.
https://www.citizen.co.za/ridge-times/327705/galery-sasol-klop-impalas-in-die-gold-cup/









