Kampioen skut van Secunda mik na nuwe hoogtes
Hy oefen reeds vir 2025 se kwalifiserende rondte.
Hilfred Siebrits (33) berei reeds voor en werk hard daaraan om sy droom te verwesenlik om nasionale kleure vir skiet te verwerf.
Siebrits het eers kort voordat die Covid-19 pandemie die wêreld getref het begin skiet en kon weens die inperking vir ’n ruk nie dié sportsoort beoefen nie.
Hy het egter die oomblik toe skietbane oop was, weer begin oefen en in September verlede jaar reeds sy eerste nasionale titel vir skiet in die produksie optiese afdeling ingepalm.
Siebrits het in Februarie vanjaar ook sy tweede nasionale titel in die produksie optiese afdeling ingepalm. Hy het eers in die produksie-afdeling deelgeneem.
“Die produksie optiese afdeling is ’n bietjie moeiliker en meer van ’n uitdaging om in deel te neem as die gewone produksie afdeling en ek het bietjie meer druk gesoek op die skietbaan,” het Siebrits gesê oor sy besluit om van afdeling te verander.

Hy het ook onlangs, tydens ’n skietkompetisie op Stilfontein, wat ook as een van die drie jaarlikse kwalifiserende rondtes vir die nasionale skietkompetisie dien, ’n trofee as die Suid-Afrikaanse kampioen vir 2023 verower.
’n Maatskappy wat vuurwapens invoer, Bosrus, het Siebrits raakgesien en hulle borg hom sedert Maart.
Daar is ook groter geleenthede op die horison wat wink vir Siebrits. Hy is een van ’n span van vier skuts wat deur Bosrus geborg word om met ’n vuurwapen vanaf Turkye, ’n CANiK TP9 SFx Rival-s, te skiet.
Siebrits het, voordat hy geborg is as ’n erelid by die Noord-Gauteng Skietklub en die Double Tap Skietklub aangesluit, en was ’n lid van die Teks Skietklub.
“As dit nie vir die mense daar was nie, sou ek nie vandag gewees het waar ek is nie,” het Siebrits gesê.
Hy het Jan Strydom, voorsitter van die Teks Skietklub, Abrie Preller van Molymer Bullets, die lede van die komitee van Teks Skietklub en Hennie Kock, die voorsitter van Mpumalanga Praktiese Skiet Assosiasie (MPSA) bedank vir hul ondersteuning en bydrae.
Hy het ook sy vrou Lauzanne en sy ouers wat hom altyd ondersteun, bedank. Die volgende kans vir Siebrits om sy nasionale kleure te kry, is in 2025 en hy het verlede jaar reeds vir dié geleentheid begin oefen.
Siebrits probeer om twee keer elke week op die skietbaan uit te kom en hy oefen vyf keer weekliks in die gimnasium om aan sy fiksheid en krag te werk.
Buiten die oefenprogram wat hy volg, oefen hy ook twee keer per dag by die huis op teikens in en rondom sy huis om sy tegniek te verbeter.
LEES OOK: Dangerous electric cables lays bare next to the pre-school
Siebrits het sedert kleintyd al van vuurwapens gehou, maar na skool het hy eers op ’n passasiersskip as fotograaf gewerk vir ’n paar jaar en het toe lank gesukkel om ’n vuurwapen lisensie te kry.
Selfs toe albei sy arms in ’n motorfietsongeluk gebreek het dit hom nie gekeer om sy droom na te jaag om ’n nasionale kampioen op die skietbaan te word nie.
As hy nie op die skietbaan of in die gimnasium is nie, bestee hy sy vrye tyd graag met sy vrou en hulle vierjarige tweelingdogters.
Siebrits werk ook nog voltyds as ’n elektriese tegnikus vir Weg Electrical.




