Delmas legende, Manie Roux se gholf nalatenskap leef voort
Manie was bekend vir sy bydrae tot behoeftige organisasies en die jaarlikse Manie Roux Gholfdag is ten bate van die Sunshine Fortuna-tehuis vir gestremdes, geleë op Balfour, aangebied.
Die Manie Roux Memorial gholfdag het weer vir groot opwinding en harde kompetisie op die Delmas gholfbaan gesorg.
Manie was vir baie jare deel van die Delmas Gholfklub. Hy is egter op 19 Oktober 2022 onverwags aan Covid-19 oorlede. Met sy kenmerkende dreunende stem kon sy teenwoordigheid by die gholfklub ver en wyd gehoor word.
Manie was verder baie bekend vir sy bydrae tot behoeftige organisasies en so was daar jaarliks ’n Manie Roux Gholfdag ten bate van die Sunfield Fortuna-tehuis vir gestremdes op Balfour, aangebied.
Sunfield is ’n nie-winsgewende organisasie wat reeds sedert 1991 persoonlike aandag en dienste aan sowat 75 verstandelik- en liggaamlik gestremde persone bied. Hulle het vir Manie na aan die hart gelê.
Die gholfdag het egter nie na sy skielike en onverwagse afsterwe nie tot ’n einde gekom nie. Sy jonger broer, Danie Roux, ook ’n Delmas-inwoner, is nou die dryfveer agter dié spesiale gholfdag.
Die Manie Roux Memorial Gholfdag het weer vanjaar op wyle Manie se verjaarsdag, 14 Oktober, op die Delmas gholfbaan plaasgevind.
Aan ondersteuning was daar geen tekort nie want 46, meestal van Manie se vriende en getroue Delmas gholklub-ondersteuners spelers het op die dag afgeslaan.
Spelers het onder ideale omstandighede afgeslaan en aan die einde van die dag se gholf het die uitslae as volg gelyk:
In die eerste plek met 113 punte was die vierbal-span was pa en seun Morné en Ryno Lourens asook pa en seun Egon Senior en Junior Seidel.
In die tweede plek met 112 punte was Adriaan Benadie, Pieter van der Merwe en Johann en Mariana Hattingh.
In die derde plek met 111 punte was Ean Nel, Bennie Labuschagne en Frans en Marna van der Merwe.
“Dit was vir my baie spesiaal om spesifiek op Manie se verjaarsdag deel van die wenspan te kon wees,” het goeie vriend, Morné Lourens, na afloop van die gholfdag gesê.













