Internasionale model kuier op Standerton
By een geleentheid in Parys wou hulle hê dat sy haar hare kleur, waarop sy terstond verklaar het, “Ek gaan nie my voorkoms verander vir geld nie.”
Elizma Esterhuyse, ’n model wat die internasionale arena betree het, was op besoek aan haar familie van Standerton toe sy voor haar terugkeer na Kaapstad ’n kort onderhoud toegestaan het.
Sy is die dogter van Ronel Starbuck. Elizma is op jong ouderdom aan skoonheidskompetisies blootgestel met ’n moeder wat die publieke keuse in 1994 was om ’n titel in te palm.
Elizma se agentskap in Kaapstad het haar reeds Griekeland, Switserland, Engeland, Italië, Frankryk, Ierland en Portugal toe gestuur om modelwerk te doen.
Sy is al die afgelope 11 jaar by hulle. Elizma het Graad Nege by Hoërskool Standerton voltooi alvorens sy aan Hoërskool Sentraal in Bloemfontein gematrikuleer het.

Haar keuse het op die Universiteit van die Vrystaat geval om haar as grondslagfase-onderwyser te bekwaam.
Sy het vir die Graad Eentjies by Laerskool Belville-Noord gedurende die pandemie klas gegee en dit geniet.
Die wye wêreld het egter gewink.
“Dit is lekker om te reis en die wêreld te sien,” het Elizma gesê.
Elizma het geen illusies oor haar beroep nie.
“My dogter sal egter nie eendag modelwerk doen nie. Daar is dwelms, alkohol, en boeliegedrag betrokke.”
“Dit is ’n tawwe bedryf en jy is nie maer genoeg, of nie lank genoeg of jou ore is te groot.”
Sy is van mening dat verwerping nie persoonlik opgeneem moet word nie.
Vir iemand wat op een dag 210 uitrustings aangehad het, het die spulletjie in Griekeland met ’n temperatuur van 5° C haar bibberend gelaat.
“Ek het met somersklere op rotse gesit. Ek is ’n menslike hanger,” het haar humorsin na vore getree.
Elizma is nie bereid om naak voor die kameralens te verskyn nie en dieselfde geld vir deurskynende ontwerpe.
Die verhouding tussen fotograaf en model moet deur professionaliteit van albei gekenmerk word.
LEES OOK: Police are searching for the families of two men who died in eMbalenhle
Kommunikasie tussen die fotograaf en model is vir haar belangrik en ’n model kan soms tot 13 ure op haar voete wees.
By een geleentheid in Parys wou hulle hê dat sy haar hare kleur, waarop sy terstond verklaar het, “Ek gaan nie my voorkoms verander vir geld nie.”
Portugal het haar met goeie herinneringe gelaat met die vriendelikheid van die mense, natuurskoon en lekker kos en Switserland koester sy ook.
Daar is nie sprake van ’n spesiale dieet nie, hoewel sy stysel en drank uitsny as sy reis.
“Ek is in ieder geval ook ‘gluten onverdraagsaam’.

Elizma sorg konsensieus om oefening in te kry, van gimnasiumsessies, kardiovaskulêre oefening tot stap van daardie 10 000 treë en hardloop.
Haar skoonheidsroetine hou sy ook eenvoudig.
“As iets vir jou werk, bly daarby.”
Sy het ongelukkig te laat die waarde van sonskerm besef en deesdae gaan dit getrou saam op reis. En sy het ’n vaste geloof aan die drink van water.
“Ek drink daagliks twee tot drie liters water.”
By bestekopname het sy die jaar as goed beskryf. “Ek is ongelooflik geseënd.”




