Local newsNewsStreeknuus

Voorsitter van TLU SA Sentraalstreek sê boerdery is ’n uitdaging

“Die landbousektor skep die meeste werksgeleenthede, maar steeds ontvang dit slegs ’n handjievol ondersteuning vanaf die regering.”

Boerdery bly ’n uitdaging en die regering maak dit baie moeilik vir boere om vooruit te boer.

Henri Combrink, voorsitter van TLU SA Sentraalstreek, het gesê: “Dit is verkiesingsjaar en mense besef dat daar nie rasionele besluite geneem word nie, maar eerder populistiese en emosionele besluite.”

Die aankondiging van die nuwe minimum loon wat op 1 Maart van krag sal wees, is bewys hiervan, meen Combrink.

Hy is van mening dat eerder as om op werkskepping te fokus, gebruik die ANC ’n verhoogde minimum loon om stemme te koop, ten koste van werk en die ekonomiese vooruitgang van die landbousektor en die land.

“Ondernemers streef in uiters moeilike omstandighede, wat grootliks aan die regering se onbevoegdheid te danke is, na winsgewendheid,” het Combrink gesê.

Nou vereis wetgewing dat ’n uurlikse loon van R27,58 betaal moet word.

“Tog betaal die regering self net R15,16 per uur aan diegene wat aan staatsprojekte werk – ’n bedrag wat bykans ’n hongerloon is indien huidige lewenskostes in ag geneem word.

“Dit lyk vir hulle maklik om vereistes aan ander te stel waaraan hulle self nie kan voldoen nie. Dit terwyl Suid-Afrikaners se belasting gebruik word om staatsprojekwerkers te vergoed.”

Hierdie verhoogde minimum loon is ten koste van die werklose. Volgens Combrink het die werkloosheidsyfer het van 29.1% in 2019 tot 31.9% in 2024 gestyg. Inflasie het ook verhoog met 1,74% sedert 2019.

“Die vraag is dus, ‘Hoe word daar van ons verwag om wetgewing te gehoorsaam as die regering dit self nie eers doen nie?’

“Die tema vir die 2024 SONA is ‘Laat niemand agter nie’, maar die vraag is, na wie word verwys, dalk die ANC kaders? Dit is tog die voedselvoorsieners – die boere – wat agtergelaat word gegewe dat 96% van grondhervormingsprogramme misluk.”

Combrink het gesê kaders word bevoordeel en landbou benadeel.

“Die landbousektor skep die meeste werksgeleenthede, maar steeds ontvang dit slegs ’n handjievol ondersteuning vanaf die regering.

“In landbou is vervoer logistiek van kardinale belang vir buitelandse uitvoere en om kos op verbruikers se tafels te kry.

“In die vorige staatsrede het ons gehoor hoe onder presterende hawens, spoorweë en infrastruktuur aandag sal geniet, maar steeds bly dit ’n uitdaging vir ons boere wat hulle voortbestaan en winsgewendheid beïnvloed.

“Om hierdie uitdagings te oorkom en as boere hulle voortbestaan wil verseker, sal daar gekyk moet word om meer innoverend en doeltreffend te boer,” het Combrink gesê.

Hoë tegnologie, meganisasie en verhoogde produktiwiteit met minder werkers is van die opsies waarna boere sal moet kyk.

TLU SA en verskeie ander organisasies het reeds ’n beroep op die regering gedoen om eerder te kyk na werkskepping, vaardigheidsontwikkeling en opleiding.

“Die huidige benadering van arbeid is nie in belang van volhoubare besigheid nie,” het Combrink afgesluit.
Vir meer inligting hieroor, besoek die TLU SA se webblad by www.tlu.co.za of kontak Henri Combrink op 082 552 9428 of stuur ’n epos na culliboer@gmail.com.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button