Help vierbeenvriende op Standerton
Volgens die NLFAS voorsitter, Hillel Coetzer, veg die skuiling tans om meer moontlike vir-ewig-huise vir die diere in hul sorg te vind.
Sedert die stigting van die Northern Light Foundation Animal Shelter (NLFAS) op 5 Maart 2022, het ’n groot aantal van Standerton se rondloperdiere ’n veilige hawe gevind.
Dié skuiling is aanvanklik gestig omdat geen voorsiening vir die welvaart van dié diere beskikbaar was nie.
Volgens die NLFAS voorsitter, Hillel Coetzer, veg die skuiling tans om meer moontlike vir-ewig-huise vir die diere in hul sorg te vind.
Daar is nie genoeg mense in die gemeenskap wat gewillig is om rondloperdiere aan te neem nie.
Die toestand word vererger deur middel van mense wat troeteldiere aanneem en na ’n paar maande nie meer gewillig is om hulle te versorg nie.
LEES OOK: Three men and a woman arrested for murder of eMbalenhle man
Hierdie viervoetvriende wat klaar ’n liefdevolle huis gehad het, word dan uitgeskuif en in onseker situasies geplaas.
Die Hoëveldrif Dierebeskermingsvereniging (DBV) op Evander het oorspronklik saam met NLFAS gewerk om gepaste huise vir die diere te vind, maar die vereniging se deure het in Februarie gesluit.
Daar word tans gewerk om ‘n nuwe organisasie in die DBV se plek te vestig, maar dié sal slegs in die Secunda gebied werk. Die naaste DBV is nou op Bethal.
“Ons het saam met die Hoëveldrif DBV gewerk, omdat hulle verseker het die diere word aangeneem en nie net van kant gemaak word nie,” het Coetzer verduidelik.
Die tragiese waarheid is baie van dié diere het sorg vanaf veeartse nodig. As nie-winsgewende organisasie vind die NLFAS dit moeilik om alle bykomende kostes wat met die skuiling gepaard gaan te kan dra.
Hoewel die organisasie hulp van die Standerton Diere Hospitaal ontvang, met verlaagde pryse vir medikasie en noodbehandeling, is daar steeds kostes aan dié dienste verbonde.
Die NLFAS komitee het op 30 April vergader om die huidige toestand van die skuiling krities te beskou en het die waarheid dat hul moontlik bedrywighede tot stilstand sal moet bring, in die gesig gestaar.
Coetzer hou egter vol dat hulle nie nou moet opgegee nie.
“Ons het klaar gewen.”
Sedert 2022 is 172 diere ingeneem en sowat 10t kos is al gebruik om die diere wat hawe vind by NLFAS te voed.
Kromdraai Kennels skenk gedurig hul mannekrag, kennis en hokke aan die NLFAS en bemagtig so die organisasie om só ’n groot verskil in die gemeenskap te kan maak.
Dié diereskuiling is altyd op soek na barmhartige Samaritane wat gewillig is om skenkings van enige aard te maak.
“Geld om veeartsuitgawes te dek, sowel as sakke kos, meerendeels katkos, sal die NLFAS help om aan te hou ’n verskil in die gemeenskap te maak.”
Mense wat betrokke wil raak, kan die Nothern Light Foundation se kantore skakel by 063 613 1214.
Die Standerton Superspar sal ook vanaf 24 Mei ’n skenkingstrollie beskikbaar stel vir mense wat dierekos en ander noodsaaklikhede wil skenk.



