Kleinding van Delmas glimlag steeds dapper ten spyte van vele uitdagings
“Waarom sou die kankertelling styg as die skanderingstoetse negatief vir enige vorms van kanker sou wees?”
Die vyfjarige Talitha Berg van Delmas het gedurende Februarie, na haar laaste chemoterapie, geen kankertelling meer gehad nie.
Haar ouers, pa Albert en ma Tanja, boeties, Pedri en Joach en sussies, Anina en Zanri, familie, vriende en ondersteuners het saam gejuig.
’n Maand later het sy vir ’n PET-skandering gegaan en die slegte nuus was weer daar; die toetse het positief vir kanker getoon.
Volgens ma Tanja, was haar dokters onseker oor die rede vir die telling.
“Die dokters het gesê dit was moontlik die Brachyterapie of ou weefsel. Daar was toe besluit om Talitha te opereer en die oorblywende gedeelte van haar stuitjie te verwyder.”
Talitha se operasie het 20 Mei plaasgevind.
“Alle ou weefsel is tydens die operasie uitgesny en so ook was die laaste van haar stuitjie verwyder,” het Tanja bygevoeg.
Wat verwyder was, het die dokters vir toetse gestuur en die uitslae was heeltemal kankervry.
“Dit het egter die dokters met ’n groot raaisel gelaat; waarom sou die kankertelling styg as die skanderingstoetse negatief vir enige vorms van kanker sou wees?”

Tanja het verder aangedui dat Talitha oor sowat ’n maand weer vir toetse gaan.
“Intussen vergader haar dokters oor die oorsaak van die positiewe kankertelling en word die raad van oorsese medici ook ingeroep.”
Soos berig in Streeknuus (8 Desember 2023) ly Talitha aan ’n seldsame kanker wat bekend staan as ‘yolk sac’ kanker’. Sy was skaars twee jaar oud toe sy op 14 Desember 2021 met dié rare kanker gediagnoseer is.
Die kleinding moes dadelik met chemoterapie begin en het die stryd dapper gestry. Ook toe haar hare begin uitval het en dit afgeskeer moes word, was Talitha ’n dapper klein vegter.

Met haar hare wat nou weer begin uitgroei is sy steeds die meisie wat bitter min, deur pyn en lyding of in goeie tye, sonder ’n glimlag gesien word.
“Dit gaan goed met Talitha. Sy speel asof daar niks verkeerd is nie,” het Tanja Streeknuus meegedeel.
Die Berg gesin gaan die Julie skoolvakansie by die see kuier en ook besoek aan die Drakensberge bring.
“Talitha sien uit daarna, want sy was nog nooit by die see saam haar boeties en sussies nie.”
Intussen bly die gesin positief en geniet elke oomblik saam met Talitha.
“Dankie aan almal vir julle omgee en gebede. Ons as gesin waardeer dit opreg”.





