AfriForum streekskoördineerder kuier op Delmas
“Baie dankie ook aan elke lid, die reaksie-, proto- en noodhulpspanne - hoe gering of groot ook al, elkeen se bydrae lewer ’n verskil.”
AfriForum se Delmas Valke buurtwag het op 3 September hulle maandelikse ledevergadering by die rolbalklub op Delmas gehou.
Teenwoordig was lede, reaksie- en proto-, eerstehulpspanlede sowel as kaptein Carla Hartley, mediawoordvoerder van die Delmas polisie.
Die buurtwag se September vergadering het egter ook vir Hennie Bekker, die Hoëveld streekskoördineerder as gasspreker gehad.
Nadat die maandelikse vergaderingspunte deurgewerk was, het Bekker die vergadering toegespreek.
Bekker het onder andere terugvoer gegee oor AfriForum se pas afgelope driejaarlikse nasionale kongres wat vanaf 22 tot 25 Augustus by ATKV Klein Kariba, buite Bela-Bela plaasgevind het.
“Die tema van vanjaar se kongres was die van gemeenskappe as vierde regeringsfeer,” het Bekker verduidelik.
Hy het verder genoem dat die Valke buurtwag met hul bydrae tot die veiligheid van die gemeenskap, in samewerking met die SAPD, juis hierdie funksie verrig en dien as ’n goeie voorbeeld daarvan.
Goeie samerwerking met ander sekuriteitsmaatskappye en buurtwagte vanuit die omgewing maar veral met die plaaslike polsisie was ook hoog geprys.
Op haar beurt het Hartley AfriForum se Valke buurtwag opreg bedank vir die ondersteuning en bystand wat hulle aan die polisie bied.
“Ons weet dat as ons op jul knoppies druk is daar altyd reaksie en bystand. Opregte dank veral aan die protospanlede wat altyd bereid is om soms op kort kennisgewing te help, watter tyd van die dag of nag ook al,” het Hartley ook gesê.
Bekker het ook weer eens die buurtwag geluk gewens met die tweede plek wat hul tydens die kongres se prysuitdeling behaal het.
LEES OOK: Motorcycle club hosts launch and charity drive in eMbalenhle
“Daar is 50 buurtwagte in die Noordstreek, die Delmas Valke is een van die kleiner buurtwagte, dit maak die prys as naasbeste buurtwag wat behaal is baie spesiaal.”
Bekker het verder instansies soos Delmas Herleef en Delmas First geprys vir dit wat hulle vir die dorp doen en die plaaslike AfriForum-tak aangemoedig om by dié instansies betrokke te bly om soedoende ’n positiewe bydrae tot die keer van die verval van die dorp by te dra.
Die voorsitter van die buurtwag, Carel Botha, het op sy beurt vir Bekker bedank vir die bywoning van die maandvergadering.
“Baie dankie ook aan elke lid, die reaksie-, proto- en eerstehulpspanne – hoe gering of groot ook al, elkeen se bydrae lewer ’n verskil,” het Botha gesê.
Hy het afgesluit deur die Delmas polisie te bedank vir hul vertroue in die buurtwag en getroue bywoning van die vergaderings.
“Saam maak ons ’n verskil.”
LEES OOK: Mkhonza twins are still waiting for their promised house in eMzinoni




