Bybeljoernalers geniet ’n inspirende dag tussen die vroue van die Bybel
“Elke bymekaarkom gaan nie net om die skepping van kunswerke in God se woord nie, maar is ook kos vir die siel.”
Delmas se Bybeljoernaal-vriendinne het op 2 November in die saal van die NG Kerk Moedergemeente bymekaargekom.
Daar was om 08:30 afgeskop met koffie- en tee waarna die aanbieder, Nitzi van Rensburg, die dag se gebeure geopen het.
Vanjaar se kwartaalikse klasse was hoofsaaklik gewy aan prominente vroue vanuit die Bybel, waar onder meer gewerk was rondom die verhale van Rut, Naomi, Martha, Maria en Ragab.
Tydens die klasse kan vroue hul behoorlik in die verhale vanuit die Bybel inleef. Die afgelope naweek se groep van 21 vroue het Eva en Maria Magdalena as tema vir die dag gehad.
Met Maria Magdalena as Bybelkuns en inspirasie agter die rug, kon die vroue ’n heerlike middagete en nagereg geniet voordat Eva aan die beurt gekom het.
Met joernaal Bybels in die hand en alle klasbenodighede verskaf, kon die vroue verder uiting gee, en het elkeen weer op hul unieke wyse, in die gesellige atmosfeer van Bybeljoernaal vriendinne, hul kreatiwiteit uitgeleef.
“Delmas se Bybeljoernaal-groep is reeds in hul vyfde jaar en ons klasse groei van krag tot krag,” het Van Rensburg gesê.
Hierdie Bybeljoernaal-vriendinne het dit eens: “Elke bymekaarkom gaan nie net om die skepping van kunswerke in God se woord nie, maar is ook kos vir die siel.”
Die jaar sal op 14 Desember afgesluit word met hul laaste klasse en Van Rensburg nooi alle vroue om op die dag te kom saam kuier.
Vir meer inligting kan sy op 082 572 7367 gekontak word of besoek gerus die Delmas Bybeljoernaal se Facebookblad vir meer inligting.