Nesher Privaatskool op Eloff vier fees in die reën
Koue, reën en dreigende wolke het nie die Nesher-familie daarvan weerhou om behoorlik fees te vier nie.
Met lentebloeisels as tema het Nesher Privaatskool op Eloff op 9 November hul gewilde familieloop en fees gehou. Koue, reën en dreigende wolke het nie die Nesher-familie daarvan weerhou om behoorlik fees te vier nie.
Met warm koffie en tee, pizza’s, worsrolle en vele meer om die koue te verdryf, was daar lekker op Nesher se terrein gekuier.
Die dag se gebeure is met die familieloop afgeskop en ouers, kinders en besoekers kon saam stap, draf of fietsry.
Modderige, maar gelukkige deelnemers het die 4.9km voltooi waarna elke deelnemer ’n medalje en ’n bederfpakkie ontvang het.
Die reën het opgeklaar en met die vrolike musiek en sang van Modz en Gert, het die jong klomp die springkasteel geniet.
Daar was ook boeresport, sokker en waterkaskenades.
Elkeen wat Nesher se familieloop, ten bate van ’n geldinsameling vir die skool, bygewoon het, het dit eens – dit was groot pret ten spyte van die vroegoggend reën en koue.
Nesher se skoolhoof, Lizette van Onselen, het elkeen wat die dag ondersteun het opreg bedank.













