Bakker van Standerton skep uit koek
Ronel Facondini het die fyn kuns van koekbak bemeester. Lees meer oor haar storie en hoe sy haar passie gekweek en omskep het in ’n leefstyl.
Ronel Facondini doen haar Italiaanse naam geregtigheid aan. Sy hou Standerton gevoed met heerlike disse en merkwaardige bakwerk.
Ronel is nie ’n gebore Standertonner nie, maar het haar jong lewe op Standerton deurgebring – sedert haar ouers hierheen verhuis het toe sy drie jaar oud was.
Ronel het in 2002 haar hoërskool loopbaan by Standerton Hoërskool voltooi. Alhoewel sy altyd ’n groot liefde vir bak en brou gehad het, het sy ’n groot deel van haar tyd agter die rekenaar deurgebring.
“Ek is my hele lewe al gek oor finansiële wiskunde en was vir 13 jaar ’n voltydse krediet kontroleerder,” het Ronel verduidelik.
Teen 2014 was Ronel ’n voltydse boekhouer, wat koek bak as stokperdjie. Buiten haar seun, Ronaldo Facondini, was die kombuis nog altyd haar eerste liefde, dus het sy na voortdurige gebed besluit om haar tuisnywerheid, Phat Fairy oop te maak.

“Ek het een aand gedroom oor ’n mollige feetjie wat op ’n kolwyntjie sit en ek het dadelik geweet dit is wat ek met die res van my lewe wil doen,” het Ronel met ’n glimlag verduidelik.
Hierdie keuse het aan Ronel die kans gebied om haar passie uit te leef en meer tyd saam haar familie te deur te bring.
Sy woon tans in die selfde huis waarin sy grootgeword het saam haar seun en haar ma, Alta Keuler. Volgens Ronel, was die vreemdste versoek wat sy al gekry het, kolwyntjies vir ’n vrygesellin partytjie.
“Ek het omtrent myself dood gegiggel soos ek die ditjies en datjies moes versier,” het Ronel gesê.
Die werk waarop Ronel die trotste is, is ’n nege-vlak troukoek waaraan sy drie dae gewerk het. Ronel sien ’n bakgeleentheid raak in alles waarna sy kyk.

Enige spotprent, prentjie, karakter of selfs toneel kan haar inspireer om te bak.
Haar gunsteling speelding in die kombuis is by vêr fondant, ’n mengsel van suiker, mieliestroop en water wat ’n vormbare maar ferm deeg aanmaak.
“Ek het haar nie genoeg met klei laat speel toe sy ’n kind was nie,” het Alta Keuler gegrap.
Ronel bak egter nie altyd alleen nie en prys haar bediende en kombuishulp, Thuli Tshwala gereeld vir haar harde werk.
Om te kook en bak is vir Ronel so goed soos terapie.
“Ek geniet dit om mense te voer. Dit is vir my belangrik dat mense nie net lekker eet nie, maar ook genoeg,” het Ronel afgesluit.








