Local newsNews

Dié hande bring hoop op Standerton

Organisasies is sowat drie jaar gelede gestig en bied praktiese hulp en geestelike ondersteuning aan mense wat hulself in nood bevind.

Hande van Hoop (HVH) is ’n geloofsgedrewe nie-winsgewende organisasie wat met leiding en ondersteuning vanaf die AGS Ekklesia aktief betrokke raak in die gemeenskap.

Volgens Kylie du Plessis, een van HVH se aktiewe lede, skakel dié organisasie se missie in by die Ekklesia gemeente se missie van ’n Geesvervulde gemeente wat verlore mense lei na geestelike volwassenheid.

HVH is sowat drie jaar gelede gestig en bied praktiese hulp en geestelike ondersteuning aan mense wat hulself in nood bevind.

“Die organisasie is ’n seën vir baie mense en maak ’n tasbare verskil in die lewens van gesinne en individue wat moeilike tye deurmaak,” het Du Plessis veruidelik.


Hande van Hoop het ’n klerebank om mense in nood te help.

Volgens Du Plessis is die doelwit om God se liefde in aksie te toon. Hande van Hoop het talle inisiatiewe gestig wat hul help om die gemeenskap te dien op praktiese maniere wat werklik saakmaak.

Die projekte sluit in ’n weeklikse sopkombuis waar die HVH span elke Woensdag meer as 40 gesinne met ’n warm maaltyd voorsien. Dit is ’n inisiatief wat hoop en ’n gemeenskapsgevoel bied vir gesinne in nood.

HVH het ook ’n klerebank.

“Dit is ’n reddingsboei vir individue en gesinne in nood wat klere benodig. Dit help om vir mense wat andersins sonder dit moes gaan, ’n gevoel van waardigheid en ondersteuning te skep,” het Du Plessis verduidelik.

Nóg ’n inisiatief wat HVH aangepak het is hul braaispan. Dié span is ’n groep individue wat regstaan met ’n braaitang en kole om die organisasie se gewilde wors-, kaas- en sosatierolle te verkoop.


Hande van Hoop se braaispan.

Die geld wat ingesamel word deur die inisiatief help om HVH se talle gemeenskapsprojekte te ondersteun. Die organisasie maak staat op ondersteuning van hul borge, vrywilligers en die genade van God om hulle te lei in hulle missie om die gemeenskap te dien.

Hande van Hoop is tans besig met ’n geskenkinsameling vir die opkomende Kerstyd. Skenkings kan by die AGS Ekklesia gemaak word.

Die organisasie vra vir skenkings van Pick n Pay geskenkpakke, geld en Santa Shoebox skenkings vir minder bevoorregte kinders.

Om betrokke te raak, skakel vir Du Plessis by 082 856 2901, Ruaan du Plessis by 071 410 3143, Anzel du Plessis by 071 607 5090 of Riaan Lategan by 071 410 3143.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button