Die Sundra Bulldogs buurtwag wys tande tydens skouspelagtige massapatrollie
Die rede vir die byeenkoms was vir die Sundra Bulldogs buurtwag om ’n massa magsvertoning van patrollieryers deur Sundra en omgewing van stapel te stuur.
Dit was op 22 November om 20:00 toe sowat 95 voertuie en sowat 300 gemeenskaplede in die parkeerterrein van Farmers Meat op Sundra byeengekom het.
Die rede vir die byeenkoms was vir die Sundra Bulldogs buurtwag om ’n massa magsvertoning van patrollieryers deur Sundra en omgewing van stapel te stuur.
Aan die stuur van die massa patrollie was die Bulldogs se voorsitter, Derek Bester. Voordat die patrollie afgeskop het, het Bester elkeen wat bereid was om hul tyd af te staan om deel te neem, opreg bedank.
Hy het ook die Sundra polisie en kaptein Linky Olckers en adjudant-offisier Welma Kirby bedank vir hul teenwoordigheid en bystand.
Spesiale dank het ook aan AfriForum se Delmas Valke- en Eloff buurtwagte gegaan vir hul deelname.
Hy het verder ook die onderskeie buurtwagte en polisie bedank vir goeie en voortgesette samewerking in die bekamping van misdaad in die omgewing.
Hierna was dit tyd vir die konvooi om op die pad te gaan en was Sundra, Mimosa, Delmas, Eloff en Droogefontein in ’n skouspelagtige magsvertoning van patrollieryers besoek.






