Local newsNewsStreeknuus

Delmasser as top tegnikus in Suid-Afrika gekroon

“Ek het, vandat ek kan onthou, saam my oupa Izak de Lange, op die plaas geboer; so die liefde vir die grond en trekkers was daar op die plaas saam oupa gekweek”.

Gebore, groot geword én geskool op Delmas – dit is Izak de Lange (28). Izak het onlangs onder die vaandel van Afgri Delmas se meganisasie-afdeling met die prestige kroning van John Deere Suid-Afrika se top tegnikus-trofee vir 2024 weggestap.

Tydens vanjaar se prysuitdeling wat op 15 November by Irene Farm in Pretoria plaasgevind het, was Izak uit duisende ander deelnemers as die wenner aangekondig.

Aanhouer wen, want volgens Izak het hy vir vier jaar aan die kompetisie deelgeneem voordat hy vanjaar die vrugte van sy vasberandenheid en deursettingsvoermoë gepluk het.

Izak het verduidelik dat die kompetisie werklik intensief is. Tydens die eerste ronde van die kompetisie word teoretiese toetse afgelê waarna die top 50 deelnemers vir die volgende ronde kwalifiseer.

Dan volg daar nog twee dae se intensiewe teoretiese- en praktiese toetse. Die top vyf delnemers word dan na die prysuitdeling genooi. Verlede jaar het Izak derde in hierdie kompetisie geëindig totdat 2024 sy jaar van wen geword het.


Izak de Lange, gekroon as John Deere Suid-Afrika se top tegnikus vir 2024.

Op ’n vraag aan Izak oor waar sy liefde vir trekkers vandaan kom, was die antwoord eenvoudig:
“Ek het, vandat ek kan onthou, saam my oupa Izak de Lange, op die plaas geboer; so die liefde vir die grond en trekkers was daar op die plaas saam oupa gekweek.”

Izak het sy skoolloopbaan by Heidi Kleiterskool op Delmas begin. Hier het hy Graad R gedoen waarna hy leerder van Laerskool Delmas en later Hoërskool Delmas was.”

“Toe dit tyd word vir my matriekafskeid in 2014 het ek net geweet dat my vorm van vervoer ’n massiewe John Deere trekker moes wees,” het Izak vertel.

Riaan Muller, die huidige takbestuurder by Afgri se meganisasie-afdeling het daardie selfde jaar sy diens by die tak begin.

“Ek het vir oom Riaan in Pick ’n Pay raakgeloop en hom begin pols oor die moontlikheid van ’n trekker leen vir die okkasie. My ma het later in die gaan kar gaan sit, maar teen die einde van daardie lang gesprek, het ek geweet dat my droom van trekker na die matriekafskeid sou waar word.”

En dit het, want Izak is per massiewe Johan Deere trekker na die 2014 Hoërskool Delmas matriekafskeid toe. Volgens Izak het hy aanvanklik beplan om na matriek te gaan studeer.


Izak de Lange.

“My ouers het my goed laat verstaan dat ek iets agter my naam moet kry voordat ek by die boerdery kan aansluit.”

Izak het verder vertel dat hy begin oplees het oor die vakmanskap van tegnikus en dit was as die goue middeweg gesien.

“Dit was my belangstelling en ek wou ook graag met my hande werk terwyl ek terselftertyd my kennis oor die boerdery bedryf kon opskerp. Ek is boonop iemand vir die buitelug, my groot liefde is boerdery; my wens is om eendag die familie boerdery oor te neem; dit was dus net logies om die ambag te voltooi.”

Izak het toe direk na skool sy vakleerlingskap op Bethal begin. Die kursus het drie jaar geduur en daarna het hy teruggekeer na Afgri op Delmas waar hy sy pos as gekwalifiseerde tegnikus opgeneem het.

Die kompetisie het gevolg en vandag is die Delmas-tak en sy bestuurder baie trots op Izak. Izak is in 2023 met die liefde van sy lewe, Acele, getroud.

“Acele het my regdeur hierdie kompetisie, met sy talle uitdagings, bygestaan en daarvoor is ek baie dankbaar. As tegnikus werk en soms baie lang en laat ure, maar wanneer ek by die huis instap, wag my bord kos altyd vir my. Selfs al slaap Acele al, sal sy steeds opstaan en hoor hoe my dag was. Haar liefde en begrip het my deur hierdie kompetisie gehelp.”

Izak bedank verder ook sy hele ondersteuningsbasis, sy ouers, Frederick en Amanda de Lange, die Afgri-tak op Delmas, takbestuurder, Riaan Muller en elke ander persoon wat in hom geglo het – en dan natuurlik vir oupa Izak (intussen oorlede) wat die liefde vir die grond en boerdery by hom gekweek het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button