CrimeLocal newsNewsStreeknuus

Buurtwaglid van Welbekend word ‘n slagoffer van plaasaanval

Die volgende oomblik was sy deur vyf onbekende aanvallers oorrompel, rond gestamp en selfs deur die gesig geklap.

Sunette du Toit (50), ‘n plaasvrou van Welbekend, bekend vir haar bystand tydens plaasaanvalle, haar betrokkenheid by veiligheid in die omgewings van Welbekend en Cullinan, het self die slagoffer van ’n plaasaanval geword.

Volgens Du Toit het ses mans in ’n wit Audi A4, vroegoggend op 4 Desember haar man, Braam (51), genader om beeste te koop waarna hy hulle meegedeel het dat hulle nie beeste verkoop nie.

Braam het glo die mans gevra om die perseel te verlaat. Hy het nie lank daarna na sy werkplek aan die Oos-Rand vertrek.

Volgens Du Toit, het sy op hierdie oggend soos gewoonlik met haar dagtake voortgegaan. Met haar kleinkind in haar sorg, het sy die paar maande oue kind gaan neerlê vir sy oggendslapie.

Die volgende oomblik was sy deur vyf onbekende aanvallers oorrompel, rondgestamp en selfs deur die gesig geklap.

Die aanvallers wou eers weet of daar nog mense in die huis was waarna hulle op kontant en vuurwapens aangedring het.
Die kluis is uit die muur geruk en die huis geplunder.


Die huis van die Du Toit egpaar waar kaste onder andere geplunder is.

“Ek het begin skree, maar die mans het my beveel om stil te bly.”

Volgens Du Toit het instink oorgeneem.

“As opgeleide buurtwaglid, het ek onmiddellik besef wat moontlik met my kan gebeur en wat die uitkoms van die situasie sou kon wees,” het Du Toit vertel.

“Teenstand was nie ’n opsie nie, want ek moes aan my slapende kleinkind se veiligheid dink. Gee vir hulle wat hulle wil hê sodat hulle net kan padgee.”

Du Toit het Streeknuus vertel hoedat sy elke detail ingeneem het, kleredrag, gelaatstrekke, houding en selfs sekere optredes.

“Danksy my opleiding het ek geweet dat dit later baie belangrik sou kon wees.”

’n Buurman het intussen alarm ontvang en na die Du Toits se huis gejaag. Volgens Du Toit was sy op daardie stadium op die boonste verdieping van hul woonhuis en het gesien haar buurman se bakkie is dwars in die ingang geparkeer.


Die verdagtes se wegkom voertuig met koeëlgate duidelik sigbaar.

Die aanvallers moes iets agtergekom het, want hulle het met dieselfde wit Audi van vroeër die oggend probeer vlug.

Volgens Du Toit het die vyf, want een anvaller het buite in die Audi gewag, deur die heining probeer ry waarna hulle in ’n boomstomp vasgery het.

’n Skietery tussen die aanvallers en die buurman het ontstaan en die vyf het te voet op die vlug geslaan. Du Toit het intussen die gebeure vanuit die venster van die boonste verdieping gesien waarna sy haarself en haar kleinkind in ’n slaapkamer toegeluit het.

Die veiligheidstrukture in Welbekend en omgewing was binne enkele minute in werking gestel en hommeltuie geaktiveer. Onder die gesteelde goedere is ’n vuurwapen, ammunisie sowel as Du Toit se selfoon.

“My selfoon was ten tye van die aanval op ‘silent’ en ons kon dit dus nie bel om die verdagtes te probeer opspoor nie.

“Ek het skielik onthou van die toep waarmee ek en Braam, mekaar kan vind.”

“Braam het my nommer geskakel en met behulp van die toep kon die presiese plek vind waar my foon was en het al die gesteelde goedere, insluitende my selfoon, in ’n bos gevind.”

Met behulp van betroubare moniteringstoepassing op die egpaar se foon, die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), lede van die polisie, Echo1 Security, en lede van die gemeenskap kon die ses mans binne etlike ure aangekeer en in hegtenis geneem word.

Drie was naby die gesteelde goedere vasgetrek. Teen druktyd was dit reeds ses dae ná die aanval en Du Toit het vertel dat die gebeure deur haar kop maal. Sy is dankbaar dat sy en haar kleinkind ongedeerd daarvan afgekom het.

“Ek doen ’n beroep op elke burger van Suid-Afrika om buurtwag opleiding te ondergaan. Moet nooit dink dat so iets nie met jou kan gebeur nie.

“As stigterslid van die AfriForum Welbekend-tak asook lid van die GPF het ek intensiewe opleiding ondergaan. Dit het my nie van ’n plaasaanval weerhou nie, maar tog kon ek op my voete dink en grootliks kalm bly.”

Du Toit het verder ook opleiding as vrywillige traumaberader deur AfriForum ondergaan. Sy maan die publiek om by hul plaaslike buurtwagte, GPF of veiligheidsinstansies betrokke te raak.

Die ses verdagtes is steeds in aanhouding. Hulle het op 5 Desember vir die eerste keer in die hof verskyn en sal weer vroeg in Januarie in die landroshof op Bronkhorstsruit verskyn waarna hulle formeel om borg aansoek sal doen.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button