Local newsNews

Standerton-inwoner floreer op kuns

Cimone Duncan is gaande oor fotografie en skilder, en sy maak ook juwele uit klei.

Kuns loop diep in die hart van Cimone Duncan, ’n gebore Standertonner wie haar passie uitleef en in tasbare kunswerke omskep.

Duncan het in 2009 aan Standerton Hoërskool gematrikuleer. Sy het haar liefde vir skilder reeds op laerskool ontdek en het in die tyd kunslesse geneem om haar vaardighede te ontwikkel.

“Ek het geleer hoe om met olieverf te werk, en so het ek my heel gunsteling medium ontdek,” het Duncan gesê.

Haar kunslesse het veel meer as slegs verf ingehou. Duncan het verduidelik hoe sy die basiese grondslagkennis van skets en skilder in die tyd aangeleer het.

Haar liefde vir kuns strek vêrder as net die skeppende kunste. Sy het in 2011 fotografie gestudeer by die Oakfields College in Pretoria en het ’n diep liefde vir makrofotografie – die fotografie van insekte en meer gedetailleerde fotostukke.

“Dit is vir my die mooiste om al die klein bewegings te kan afneem. Dit is byna soos ’n hele ander wêreld,” het sy gesê,

Duncan is lief daarvoor om diere af te neem, en sy vind groot plesier daarin om die pragtige herrinneringe van geliefdes op te neem.

In 2022 het Cimone vir die eerste keer kleigereedskap opgetel. Sy het op Facebook talle opnames gesien van mense wat met polymer-klei beelde maak en dit aan oorbelle, hangertjies en selfs sleutelhouers sit.

“Die fyn werk het my aandag dadelik getrek en ek was gek oor die eindresultate,” het Duncan gesê.

So het sy begin om haar polymer-juwele aan mekaar te slaan. Sy het in 2023 haar heel eerste markdag bygewoon, waar sy haar kunswerke, van verf tot foto’s, uitgestal het.

“Ek is baie dankbaar om in die bevoorregte posisie te wees waarin ek is. Ek volg my passie en geniet elke oomblik daarvan. Ek leer en gaan waar die pad my vat,” het Duncan gesê.

Haar grootste ondersteuners is haar ouers, Marlene en Allen Duncan.

“Hulle dra my regtig deur alles, sonder hulle sou ek nie kon klaarkom nie,” het Duncan vertel.

Bo alles dank sy die Here vir Sy teenwoordigheid in haar lewe.

“Hy het my nog altyd gelei, en sal aanhou om die rigtingwyser vir my pad te wees,” het sy afgesluit.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button