Local newsLocal sportNewsStreeknuus

Phoenix Rugbyklub van Delmas is slaggereed vir 2025

“Nguni wat Phoenix tydens die Kestrel Liga eindstryd as kaptein gelei het, is ’n uitstekende speler en aangewese afrigter vir Phoenix.”

Die Phoenix Rugbyklub, bestaande uit spelers vanuit die Delmas-, Eloff en Sundra omgewing is gereed om hul Kestrel Ligabeker in 2025 te verdedig.

Phoenix het naam gemaak toe hulle op 7 September met die Kestrel Liga beker weggestap het nadat hulle in die eindstryd die span van Edenvale op die Barnard Stadion in Kempton Park 16-11 geklop het.

Volgens Jandré Senekal, uittredende afrigter, is dit baie vroeg in die jaar, maar is daar reeds onderhandelinge met die Valke Rugbyunie aan die gang.

“Ons beplanning op hierdie stadium is om binne twee weke met oefening af te skop. Dit gaan weer by Laerskool Eloff plaasvind – twee keer per week vanaf 19:00 tot 21:00,” het Senekal gesê.


Die Phoenix Rugbyklub na afloop van die Kestrel Liga eindstryd. Foto: Streeknuus argief. Fotokrediet: Valmiibum Photography

Vriendskaplike wedstryde loer ook glo reeds op die horison waarna Phoenix weer aan die President Liga sal deelneem.

“Soos in 2024 sal hierdie liga weer die bepalende faktor wees oor waarheen die 2025 seisoen ons sal dra.”

Senekal het verder genoem daar sal moontlik oorweeg word om na ’n hoër liga binne die Valke Rugbyunie te beweeg. “Tyd sal egter leer.”

Volgens Senekal het hy ’n groot uitdaging in sy persoonlike lewe gedurende 2024 trotseer.

“Dit het my egter as ’n sterker mens aan die ander kant laat uitkom. Deur geloof, bystand en die Phoenix Rugbyklub kan ek weer die pad vorentoe met positiwiteit en in geloof voortsit,” het Senekal laat hoor.


Die Phoenix rugbyklub se uittredene afrigter, Jandré Senekal, tydens die 2024 Kestrel liga finaal in Kemptonpark. Foto: Streeknuus argief. Fotokrediet: Valmiibum Photography

Senekal het Streeknuus verder meegedeel dat hy steeds by Phoenix betrokke gaan bly. Peter Mnguni is as die nuwe hoofafigter aangewys.

“Mnguni wat Phoenix tydens die Kestrel Liga eindstryd as kaptein gelei het, is ’n uitstekende speler en aangewese afrigter vir Phoenix,” het Senekal bygevoeg.

“Daar was swaarkry jare, maar Phoenix het uit die stof opgestaan en ons span en bestuur dra ons volgehoue oorwinnings van die vorige seisoen aan die Here op.

“Ons glo verder dat ons gedurende 2025 nog meer ondersteuning, erkenning en trots van ons gemeenskap sal kan geniet – ons doen wat ons doen vir die gemeenskappe van Delmas, Sundra en Eloff.”

Hou Streeknuus dop vir presiese oefentye en beplande wedstryde asook terugvoer in 2025. Vir meer inligting kan Senekal by 084 411 7599 geskakel word.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button