Buurtwagte in Delmas en omgewing begin 2025 positief en vol hernude geesdrif
“Ons lewer ons beste in diens van ons gemeenskap,”

Die Sundra Buldogs- en AfriForum Eloff en Delmas Valke buurtwagte se onderskeie leiers is vol hoop en positief in die stryd teen misdaad vir 2025.
Heila Coetzee, voorsitter van Eloff se AfriForum Buurtwag meen dat dié buurtwag net gaan voortbou en aanhou volhard in die stryd teen misdaad. “Ons gaan volstoom voort.”
Coetzee het verder genoem hulle sien met groot opgewondenheid uit na die oprigting van nommerplaatherkenningskamera’s in die Eloff omgewing.
Volgens Coetzee het die buurtwag moeite gedoen om borge te verkry vir die oprigting van dié kamera’s.
“Ek wil bedank elke persoon wat tot hierdie belangrike stap in die voorkoming van misdaad in ons omgewing bygedra het. Dit word opreg waardeer.
“Ons gaan voort om ’n diens aan ons gemeenskap te lewer. Ons brandspanne en mediese spanne is slaggereed vir 2025 – ons lewer net ons beste in diens van ons gemeenskap,” het Coetzee afgesluit.
Derek Bester, voorsitter van die Sundra Bulldogs Buurtwag sê die fokus van 2025 is die bou van goeie en positiewe samerwerking tussen die Bulldogs-, Eloff- en Delmas Valke buurtwagte.
“Sodoende kan ons omstandighede vir ín die gemeenskap vír die gemeenskap verbeter.”
Volgens Bester streef hulle na goeie samewerking en spanwerk.
“Ons hoop om sodoende bewusmaking by die gemeenskappe te skep oor die waarde wat ’n goeie buurtwag het. Mense moet die belangrike funksie van ’n buurtwag begin sien en waardeer.”

Die Sundra Bulldogs werk verder ook aan die oprigitng van meer kamera’s in die onderskeie omgewings.
“Ons doelwit is om ons dorpe ‘toe te maak’; of daar nou gesteelde of gesoekte voertuie, rowers en of kapers beweeg – ons moet daarop kan reageer”.
Volgens Bester is die veiligheid van die gemeenskappe prioriteit.
“Deur kommunikasie en gesonde vennootskappe moet ons vanaf binne- en buite na ons gemeenskappe se veiligheid omsien”.
Carel Botha, voorsitter van AfriForum Delmas Valke Buurtwag het Streeknuus meegedeel dat dié buurtwag reeds in hul 15de bestaansjaar is.
“Die Valke het jaarliks van krag tot krag gegroei. Verlede jaar was ons beste jaar ooit en in 2025 gaan ons nie skroom om hierop te verbeter nie”.

Volgens Botha het die buurtwag ’n goed opgeleide proto-, reaksie en eerstehulpspan.
“Die Valke Buurtwag is daarom ook sinoniem met veiligheidsoperasies en eerstehulp bystand in Delmas en omgewing”.
In noue samewerking met die SAPD, sekuriteitsmaatskappye en ons buur buurtwagte gaan ons beslis poog om ons diens aan die gemeenskap tot ’n volgende vlak te neem.
Ons onderskeie buurtwagte is ook sterk besig om ons nommerplaatherkenningskamera netwerk uit te brei. Die 2024 suksesse het deur-en-deur bewys dat dit ’n absolute noodsaaklikheid geword het.
“Ons buurtwag se plek in die gemeenskap het met deurlopende toename in misdaad ’n noodsaaklikheid geword. Aan elke inwoner van Delmas: ‘Word ’n AfriForum-Valk en kom wees deel van dié wat ’n verskil maak,” het Botha afgesluit.
Om deel te word van die Delmas omgewing buurtwagte, kontak die onderskeie voorsitters:
- Eloff Buurtwag: Heila Coetzee – 078 065 0105
- Sundra Bulldogs Buurtwag: Derek Bester – 081 512 5285
- Delmas Valke Buurtwag: Carel Botha – 082 925 5849.