Tenshinkan Karateklub vestig op Delmas
“Dit is ’n uitstekende familiesport waar gesinne saam kan oefen en fiksheid, krag, koördinasie, soepelheid, konsentrasie en dissipline verbeter.”

Onder die bekwame hand van sensei Leon Gagiano het ’n lang verwagte karateklub op Delmas kom vestig. Gagiano, gebore in Namibië, het Streeknuus meegedeel dat hy reeds op die ouderdom van 11 die sport as sy eie aangeneem het.
“Ek beoefen die sport nou al vir 42 jaar en dit bly my passie,” het hy gesê.
Gagiano is tans ’n vierde dan en as sensei behels sy taak die van opleiding in selfverdedigingstegnieke, sport karate sowel as kobudo, die afrigting in wapens.
Gagiano se passie met die sport van karate het hom reeds provinsiale-, Namibiese-, sowel as Protea kleure besorg.
Onder die vaandel van sy Protea kleure het Gagiano sy titel gedurende 2012 in Japan verdedig en met die eerste plek in kumite huiswaarts gekeer. Gagiano het verder vertel hy het in 2024 ’n oproep vanaf ’n Delmas ouer ontvang.
“Die behoefte vir karateklasse was duidelik daar. Ek het ’n paar proeflesse aangebied en die entosiasme was beslis die oorredende faktor. So het die Tenshinkan Karateklub op Delmas sy ontstaan gehad.”
Volgens Gagiano is karate ’n sport vir beide jonk en oud.
“Dit is ’n uitstekende familiesport waar gesinne saam kan oefen en fiksheid, krag, koördinasie, soepelheid, konsentrasie en dissipline verbeter.”
Selfverdediging tegnieke word ook aangeleer wat afknouery die hoof bied en in die proses word selfvertroue asook selfbeeld gebou.
“Die Tenshinkan styl is gebaseer op tradisionele konsepte, maar bevat moderne vegmetodes- en tegnieke. Dit is dus ’n kombinasie van karate, Aikido, Jui-Jitsu en Kobudo.”
Klasse word tans twee keer per week op Maandae en Dinsdae in die Rome Saal by Laerskool Delmas aangebied. Tenshinkan Karate Delmas bied klasse aan vir kinders vanaf vierjarige ouderdom tot veterane.
Enige iemand almal is welkom om in te val. Belangstellendes kan Gagiano by 081 246 3030 skakel. Die eerste twee klasse is gratis.