Feestyd-ongelukke in die Delmas-omgewing bring groot hartseer
DTwee dogters op die laaste dag van 2024 in ’n motorongeluk op die N12 dood. Die volgende dag is ’n egpaar in ’n ongeluk op dié hoofweg beseer. Die man is ’n paar dae later dood.

Die minister van vervoer, Barbara Creecy, het op 20 Januarie die voorlopige padsterfte statistieke vir die afgelope feestyd bekendgemaak.
Daarvolgens het 1 052 mense gedurende die 2024/25-feestyd op Suid-Afrika se paaie in 1 234 voorvalle gesterf.
“Die aantal sterftes is ’n toename van 5,3% in vergelyking met dieselfde tydperk in die vorige jaar. Vyftig meer ongelukke, of 4,2%, het in die 2024/25 feestyd plaasgevind in vergelyking met die 2023/24 feestyd,” lui die verklaring verder.
Ook in die Delmas-omgewing, en veral op die N12 het hartseer tonele hulle die laaste maand afgespeel.
In die mees onlangse voorval is ’n voetganger op die N12 oorlede nadat hy glo dié pad met ’n boomtak op 16 Januarie probeer oorsteek het.
Twee bejaarde susters van Duitse afkoms was dié oggend vanaf Germiston op die N12 na die Kruger Wildtuin op pad.
Sowat 1km voor die R42 Bronkhorstspruit-oprit het die ongeluk hulle egter getref.

Volgens Maria Petty (84), het sy skielik ’n baie lang ‘paal’ in die pad gesien en moes na die regterkanste baan uitgeswenk.
Van agter het ’n ander voertuig, ’n wit Nissan NP200 bakkie, gekom en dié bestuurder moes op sy beurt vir Petty se wit Volkswagen Polo uitswaai.
Die bakkie het die voetganger getref en hy is op die toneel dood verklaar. Op die toneel het twee verslae mans wat die oorledene geken het, gestaan.
“Hy sny gereeld takke in ’n bos aan die oorkant van die N12; dié hout vat hy vir sy mense by sy huis vir vuurmaak,” het hulle Streeknuus meegedeel.
Beide voertuie het gebreekte windskerms gehad en moes deur insleepvoertuie van die toneel verwyder word.
Petty het Streeknuus op 17 Januarie vertel haar voertuig se windskerm was in Nelspruit vervang omdat Delmas nie oor voorraad beskik het nie. Die vroue was egter in goeie luim en het die hekke van die Kruger veilig bereik.

In nog ’n voorval wat op 25 Desember op die N12 plaasgevind het, was ’n voetganger ernstig in ’n tref-en-trap-ongeluk beseer.
’n Ongeluk op die N12 wat veral die noodwerkers geruk het, was op die laaste dag van 2024 waarin twee kinders gesterf het.
In dié ongeluk was daar twee vragmotors en drie voertuie betrokke. Die oorsaak van die ongeluk was onbekend.
In een van die voertuie was ’n gesin en hul vier kinders op die N12 in die rigting van Johannesburg op pad. Hul voertuig is van agter getref en hul twee dogters wat in die agterste sitplek gesit het, is op die toneel dood verklaar.
Pa, ma en die twee jonger kinders het die ongeluk oorleef en is later per ambulans na die Bernice Samuel Hospitaal op Delmas vervoer. Alle nooddienste was op die toneel.
Die volgende dag, die eerste dag van 2025, het nog ’n ongeluk op die N12 plaasgevind en was daar veelvuldige beserings aangemeld.

’n Bejaarde egpaar was vanaf hul kinders in Middelburg na Springs onderweg toe hul voertuig en sleepwa reg van agter getref is.
Beide pasiënte was op die toneel deur eerstehulp lede van AfriForum Delmas Valke Buurtwag behandel en toe per ambulans na ’n hospitaal vervoer.
Die bestuurder van dié voertuig is egter op 10 Januarie oorlede.
Volgens Carel Botha, voorsitter van die plaaslike buurtwag was daar sedert die begin van Desember 11 ongelukke waarvan hulle bewus is.
“Die buurtwag se eerstehulp-, reaksie- en protospanne was in al die gevalle op die toneel. Ons het bystand gelewer aan beseerdes en het verkeer gehelp beheer.
“Ten spyte van baie hartseer verhale wat hulle op van die tonele ontvou het, bedank ek die buurtwaglede vir hul onbaatsugtige diens tydens die feestyd – elkeen van hulle word opreg waardeer.”