Laerskool Rayton vier wêreld-hardopleesdag
In klaskamers en op speelgronde het stemme geklink terwyl kinders vir mekaar voorlees en hul liefde vir boeke deel.

Stories het die krag om mense te inspireer, bymekaar te bring en woordeskat te bou. Dié krag word nóg sterker wanneer stories hardop gelees en gedeel word.
Dit is die kern van wêreld-hardopleesdag, wat jaarliks op die eerste Woensdag van Februarie gevier word. Die leerders van Laerskool Rayton het op 5 Februarie met entoesiasme deelgeneem aan hierdie spesiale dag.
In klaskamers en op speelgronde het stemme geklink terwyl kinders vir mekaar voorlees en hul liefde vir boeke deel.
Onderwysers en leerders het saamgewerk om ’n kultuur van lees aan te moedig, met die klem op selfvertroue, begrip en die vreugde van stories.

Rld Johannes Bekker, wat ’n sterk ondersteuner van geletterdheid is, het sy bydrae oor wêreld-hardopleesdag beklemtoon.
“Lees is die sleutel tot kennis en sukses. Elke boek wat leerders oopmaak, neem hulle op ’n reis na nuwe plekke, nuwe idees en nuwe moontlikhede. Hou aan lees, hou aan leer en onthou: ’n kind wat lees, is ’n kind wat groei.”
Die dag het gewys dat lees nie net ’n noodsaaklike vaardigheid is nie, maar ook ’n avontuur. Elke voorlees geleentheid het ’n storie tot lewe gebring en ’n nuwe wêreld vir die leerders van Laerskool Rayton oopgemaak.
Die afgelope 15 jaar word wêreld hardoplees dag in 173 lande wêreldwyd gevier – ’n bewys van die belangrikheid en impak van lees regoor die wêreld.