CrimeLocal newsNewsStreeknuus

Privaat speurder blaas fluitjie op beweerde graandief van Delmas

“Die vrag mielies tesame met die vragmotor se sleutel en die bestuurder was skoonveld.”

Christina Khensani Masina (35) het op 12 Februarie in die Nigel Landdroshof op ’n klag van beweerde mieliediefstal verskyn.

Dié inwoner van Botleng, Delmas, se inhegtenisname op 11 Februarie volg op ’n lang en intensiewe ondersoek deur ’n oud-polisielid, deesdae ‘n privaat ondersoeker en inwoner van Delmas.

Volgens dié speurder wat annoniem wil bly, het die saak twee jaar gelede onder sy aandag gekom toe ’n vragmotor op die oggend van 24 Junie 2023 tussen 03:00 en 04:00 onder verdagte omstandighede in Devon stilgestaan het.

“Die vragmotor het vir sowat ’n uur geluier, slegs 400m vanaf die Devon silo’s,” het die speurder vertel.

Teen 07:00 dieselfde oggend is die satellietopsporingstelsel nagegaan en was daar gemerk dit staan in ’n ry en wag vir aflewering van die vrag mielies aan boord. ’n Werktuigkundige is na Devon gestuur om te bevestig of die vrag wel nog aan boord was.

“Die vrag mielies, tesame met die vragmotor se sleutel en die bestuurder was skoonveld. Die aanvanklike reaksie was ‘n moontlike kaping van die vrag.”

Beeldmateriaal het die ondersoek na ’n leë perseel op Devon gelei. Hier was glo tekens gekry van mielies wat op die grond gemors is, wat die vermoede dat die vrag na alle waarskynlikheid ‘oorgelaai’ was, bevestig het.

Nog beeldmateriaal in die onmiddelikke omgewing was nagegaan. Volgens die speurder kon daar duidelik gesien word hoe ’n wit Mercedes die betrokke vragmotor begelei.

“Met baie lang ure en geduld het hy beeldmateriaal van nabygeleë besighede se veiligheidskameras deurgegaan. Daarop kon gesien word dat die verdagte wit Volvo vragmotor met ’n blou superlink kant tipper vanaf Devon in die rigting van Delmas ry.”

“Inligting oor die vragmotor is bekom en die speurder het ’n informant aan die werk gesit om die vragmotor se kom en gaan dop te hou.”

Die Volvo vragmotor se spoor is gevolg tot by die silo’s op Dryden waar daar probeer was om die vrag af te laai.

“Dryden het egter nie in 2023 ’n kontrak vir die lewering van wit mielies gehad nie.”

Steeds op dieselfde dag (24 Junie 2023), was die vrag glo na die Bronkhorstspruit silo’s geneem.

“Hier was dit in die bunkers verskans. Verdere inligting het na Botleng, Delmas gelei,” het die speurder Streeknuus meegedeel.

Die speurder het verduidelik lede van ’n sindikaat het glo vragmotorbestuurders genader met omkoopgeld om op spesifieke dae die sindikaat op sekere plekke te kry om vragte oor te laai.

“Ons glo dit is alles deel van ’n sindikaat of sindikate.”

Adresse, voertuig registrasienommers en meer inligting was bekom.

“Ek het hierna protospanlede van AfriForum Delmas Valke Buurtwag gekontak en om bystand gevra om die wit Mercedes en ’n verdagte swart Toyota Yaris te monitor.”

Bykans ’n jaar ná die aanvanklike oorlaai van die vrag wit mielies op Devon, was die swart Yaris in Sundra in April 2024 opgemerk.

Volgens die speurder, het Delmas SAPD en die buurtwag hierop gereageer en ’n verdagte in ’n ander saak was positief uitgeken.

“Daar was ’n lasbrief vir Masina se inhegtenisname uitgereik.”

Die speurder het verder gesê hy het inligting aan misdaad intelligensie in Mpumalanga en die Gauteng Trio Taakspan deurgegee.

Nog ondersoeke het gevolg wat bevestig het het dat wit mielies na bewering deur ’n vroulike kliënt aan ’n bekende groothandel maatskappy gelewer word.

“Die kwessie rondom die verskaffing van portfolio’s was met die bekende handelsgroep se hoofkantoor in Centurion bespreek,” het die speurder vertel.


LEES OOK: eMbalenhle mother needs help for her toddler with cleft palate


“Dit blyk egter dat portfolio nommers links en regs aan enige persoon toegeken word; sonder die behoorlike nagaan van die persoon se vermoë om tonnemaat mielies te verkaf,” het die speurder verder gesê.

“Volgens my moes Masina darem sekerlik kon bewys het dat sy ’n plaas het en watter soort mielies sy sou gelewer het.”

Met Masina se identiteit bekend en ‘hope bewyse’ op hande was sy (Masina) glo gekontak en die kans gegun om haarself aan die polisie oor te gee.

“Dit het egter nie gebeur nie. Die wiele was toe aan die rol gesit en die vrou het met ’n ‘kliënt’ ooreengekom dat sy ’n vrag mielies by hom sou koop.”

Met die lasbrief aan hand is Masina op 10 Februarie in deur middel van ’n burgerlike inhegtenisneming in Breswol, Etwatwa vasgetrek waarna sy aan die Benoni Blitspatrollie oorgegee was en die lasbrief formeel op Masina gedien was.

Die speurder het die Benoni Blitspatrollie, Gauteng Trio Taakspan, Sundra Bulldogs Buurtwag, Valke Buurtwag protospan lede, Ghost OPS Security, Black Hawk Tactical en No Jack vir hul ondersteuning en bystand tydens die ondersoek bedank.

Teen druktyd sou Mansina weer op 19 Februarie in die hof verskyn het waartydens sy glo formeel om borgtog sou aansoek doen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button