AfriForum se takke het die afgelope twee maande op Bethal en Secunda gewoeker.
Die Bethal-tak het die afgelope maand baie in die dorp belê en gespook om al wat ’n grasperk, park of groenstrook is, met ’n grassnyer by te kom.
Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, het gesê dié tak het selfs die gronde van die plaaslike polisiestasie meer toeganklik gemaak.
Die Bethal-tak se buurtwagspan het vroeg in Januarie aan die werk gespring met dié projek.
“Die polisiestasie moet maklik toeganklik wees vir die publiek,” het Bekker gesê.
Verder het AfriForum se buurtwagspan ook die gras langs die N17-snelweg, wat deur die dorp strek, se rante gesny en meer as vier vragte tuinvullis weggery.
Die sypaadjies, wat toegegroei was onder die lang gras en veroorsaak het dat voetgangers nie veilig langs die pad kon loop nie, is ook skoongemaak.
Terwyl die buurtwagspan die gras om die brug in Malherbestraat, waar die Nestlé-fabriek eers was, gesny het en die area om die plaaslike DBV skoongemaak het, het die gemeenskap gesien wat AfriForum probeer bereik en hand bygesit.
Volgens Bekker het vrywilligers broodnodige mannekrag gebied en saam met die buurtwagspan gehelp om die rotstuin by die driehoek naby die brug te onderhou.
“Bethal Traders het ook die naburige vlei getem en bossies gesny en weggery,” het Bekker gesê.
Ingrid Human, voorsitter van AfriForum se Bethal-tak, het gesê die Bethal-tak is nog lank nie klaar met die dorp nie.
“Die komende paar weke gaan groot projekte aangepak word om die gebied te verbeter. AfriForum moedig mense aan om hand by te sit met die skoonmaak en verfraaiing van Bethal. Elkeen kan ’n verskil maak,” het sy afgesluit.
Die Secunda-tak het in Januarie die groenstroke op Secunda skoongemaak. Die groenstroke was na die baie reën in Januarie toe onder die gras en onkruid.
“Ons span het onverpoosd gewerk om gebiede, wat gelykstaande is aan die grootte van drie rugbyvelde, skoon te maak,” het Jan du Plessis, Secunda-tak se voorsitter, gesê.

AfriForum se buurtwagspan het ’n oppervlak van meer as 32 300m² getakel en ook bome gesnoei.
“Baie van dié groenstroke word deur inwoners gebruik, maar omdat dit so toegegroei was weens die swaar reën was dit so te sê ontoegaanbaar,” het du Plessis gesê.
“Die werk was nie sonder sy uitdagings nie. Sommige van die parke en groenstroke moes ons eers laat oorstaan omdat dit te nat was. Die plaaslike vullisterrein was boonop ook onbegaanbaar weens die nat toestande.”
Die buurtwagspan het daarop gefokus om die groenstroke op onder meer Vaalrivierstraat skoon te maak, asook die stroke op Steenkoolspruit-, Rietspruit-, Wolwespruit- en Jansonstraat. Davieshof se gronde is ook deur AfriForum skoongemaak. Die span werk tans aan die groenstroke by Nelson Mandelarylaan en die omliggende gebied.
“Ons skrik nie vir harde werk nie. Terwyl die plaaslike munisipaliteit inwoners erg in die steek laat, sal AfriForum die mas opkom en die gebied instand hou,” het du Plessis afgesluit.




