Local newsNews

Rosa is aan stuur van sake by VLU se Secunda-tak

Voorsitter voel VLU bied geleentheid vir uitdagings en groei.

Rosa Black, ouma van drie, is vir die afgelope vier jaar voorsitter van die VLU Secunda-tak. Sy het in 2021 by die VLU aangesluit nadat sy in 2015 ook vir ’n jaar ’n lid van die VLU was, maar sy moes toe die VLU verruil om weer te werk.

Black is ’n gekwalifiseerde verpleeg-assistent en het vir jare by Mediclinic Highveld gewerk; eers voltyds, en later nadat sy afgetree het, op kontrak basis.

Sy het ook vir ’n rukkie by Evander Hospitaal gewerk. Sy het in Johannesburg grootgeword en na skool vir ’n jaar op Ellisras gewoon nadat sy getroud is.

Sy en haar man, Blackie, het in 1990 Ellisras vir Secunda verruil toe hy by Sasol begin werk het. ’n Vriendin het haar destyds genooi om by die VLU aan te sluit en vandag meen Black die VLU is haar hartklop.

Sy het al verskeie kere toekennings ontvang by die VLU vir die meeste punte op ’n kongres of konferensie en sy loop gereeld as die wenner weg by die VLU maandelikse kompetisies.


Rosa Black met een van haar Chinchillas en twee van haar honde.

By die VLU kompetisies hou sy die meeste van die handvlyt afdeling en het gesê sy leer nog van naaldwerk. Brei- en hekelwerk is ook nog vir haar ’n uitdaging.

Sy het verlede jaar vir die eerste keer ’n trui vir die VLU kompetisie gebrei en was verbaas toe sy ’n derde plek op ’n konferensie vir die trui gekry het.

Sy doen tans ’n kursus om ’n VLU beoordelaar te word. Sy is lief vir kook en bak en hou daarvan om met verskillende disse te eksperimenteer. Nog een van haar gunsteling kompetisie afdelings by die VLU is gebotteld waar sy iets kan inlê.

“As kind het ek baie by my tannie op hulle plaas naby Noupoort gekuier en sy het altyd iets ingelê. Sy het ook altyd botter gekarring en ek het baie by haar en my ma geleer,” het Black vertel.

Black is ’n groot diereliefhebber en het honde, katte, Chinchillas (’n diertjie van Suid-Amerikaanse afkoms wat deel van die rotspesie is) en selfs twee spinnekoppe.

“Ek het slange ook gehad, maar my man het nie van hulle gehou nie so ek moes hulle laat gaan.”

Black hou ook van motorfietse en het vir jare saam met Blackie motorfiets gery, maar die egpaar het dit nou verruil vir twee driewiel motorfietse. Hulle ry soms met die een rond terwyl Blackie nog aan die ander een werk om hom dit padwaardig te kry.

Black het baie planne vir die VLU vir 2025 en beplan onder andere ’n uitreikaksie na skole waartydens hulle die dogters wil aanmoedig om te leer hoe om te brei, hekel en handvlytwerk te doen.

“Ek wil ’n verskil maak in vroue se lewens. Daar is baie vroue wat nie werk nie en stagneer by die huis. Hulle kan hulself verryk deur iets nuuts te leer,” het Black gesê.

Black meen die VLU gee vroue baie uitdagings en geleenthede om te groei. Belangstellendes is welkom om die VLU Secunda-tak se volgende vergadering op 12 Maart by te woon.

Vir meer inligting, skakel Black by 082 586 9638.



LEES OOK: Community in eMbalenhle builds footbridge

LEES OOK: Young and old help complete kennel paint project in Secunda

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button