Local newsMunicipalNewsStreeknuus

VKLM se haglike paaie wroeg inwoners

“Die paaie het totaal verouder en moet dringend opgegradeer en oorgebou word.”

Witbankweg en die R555 is die enigste paaie wat nog rybaar is in Eloff, Sundra, Rietkol en Modder-Oos Boorde binne die Victor Khanye Munisipaliteit (VKLM).

Dit is die algemene gevoel van inwoners van dié gebiede.

“Die teerpaaie, as dit nog so genoem kan word, het heeltemal verval. Motoriste ry nou op paaie lángs die paaie,” het Derek Bester Streeknuus meegedeel.

Volgens Bester, die voorsitter van die Sundra Bulldogs Buurtwag, moes hy verlede Donderdag in die vroeë oggendure hulp verleen om ’n ambulans uit te sleep nadat dit in die Mimosa informele woongebied in Eloff vasgeval het.

“Die lewering van nooddienste word dus direk deur die swak toestand van ons paaie benadeel.”

Volgens Bester is dit bykans ’n onmoontlike taak om effektief te reageer op enige noodsituasie.

“Ek self het ’n Landcruiser, maar selfs die groot sterk voertuig sukkel om deur sommige van die gate en modder-gemors te ry.”

Bester het verder genoem selfs die Sundra polisie het probleme om sekere dele van die omgewing te bereik.

“Hulle ry die voertuie stukkend in gebiede wat nie meer geskik is vir voertuie nie.”

Bester het Streeknuus verder vertel die burgemeester van VKLM, Vusi Buda, het in 2024 ’n vergadering met die inwoners van dié gebied belê.


Die T-aansluiting vanaf Modder-Oos Boorde na die R50 pad.

“Die toestand van ons paaie het onder hewige debat gekom – ek het vir Buda uitgedaag om my in sy BMW te volg, om self die paaie te beleef.”

Hy het egter nie die uitdaging aanvaar nie. Hy het direk na die vergadering in sy BMW geklim en met Witbankweg en toe die R555 na Delms teruggekeer.

‘n Eloff inwoner, Joe van Breda, het Streeknuus meegedeel die paaie is so vervalle dat ’n sakkie teer nie meer ’n verskil gaan maak nie.

“Om as gemeenskap self te probeer om die paaie te herstel is ook byna onmoontlik; die oorgrootte deel van ons inwoners is pensioenarisse – finansiële bydraes is dus nie moontlik nie.”


Die Eloff sirkel.

“Daar was vir baie jare geen instandhouding in die Eloff- en Sundra omgewing gedoen nie; dit moet in geheel oorgebou word.”

Bester het verder vertel die vele vervoermaatskappye se voertuie dra by tot die verval en ‘stukkend ry’ van paaie.

Die DA in VKLM het op 19 Februarie ’n mediaverklaring uitgereik oor die toestand van paaie binne VKLM.

Raadslid Diane Bath, die koukusleier in VKLM, het gesê die DA het ’n petisie van stapel gestuur oor die vervalle toestand van VKLM paaie.


Die Laan in Eloff na die onlangse reën.

Hierin word die lid van die bestuurskomitee vir infrastuktuur, vervoer en veiligheid, Tebogo Malomane, versoek om dringend die toestand van VKLM paaie te ondersoek.

Bath noem verder VKLM se paaie was oorspronklik slegs vir lae volumes verkeer ontwerp en gebou.

“Soos die jare verby gegaan het, was daar egter geweldige groei binne die industriële-, myn- en boerdery sektore,” het Bath gesê.

“Dit het daartoe bygedra dat paaie wat nie ontwerp was om swaar vragte te dra nie, beskadig word. Die paaie het totaal verouder en moet dringend opgegradeer en oorgebou word,” het Bath bygevoeg.

“Natuurlike bronne, die ligging van Delmas as deurgang tussen Mpumalanga en Gauteng, is ook bydraende faktore tot die groei wat in VKLM plaasgevind het.”

“Om dus Delmas se groei te bevorder, verder te stimuleer en beleggers te lok, sal daar dringend na die paaie in en om Delmas gekyk moet word.”

Hoofroetes binne die dorpsgebiede word volgens Bath ook maksimaal gebruik. “Dit lei weer to die opeenhoping van verkeer.”

“Die munisiplaiteit se verskoning van ’n tekort aan geld kan nie langer aanvaar kan word nie.”

Daar was ook in die petisie melding gemaak dat VKLM aandag moet gee aan padtekens en verkeerstekens, voetoorgange en spoedhobbels.

“Dienstebetalers verdien dienste en nie verskonings nie. My hart breek vir ons inwoners wat hierdie paaie op ’n daaglikse basis moet aandurf; wat werk toe moet gaan, hul kinders by die skool moet kry en inkopies moet gaan doen,” het Bester bygevoeg.

“Nog meer beloftes, dit word jaar na jaar gedoen, maar niks gebeur nie. Maak al die teerpaaie net grondpaaie, skraap dit gelyk, want die meeste van ons grondpaaie is verreweg in ’n beter toestand as dit wat oor is van die teerpaaie.”


Nelstraat, waar daar eens ’n teerpad was.
Die toestand van die pad wat inwoners van Modder-Oos Boorde daagliks in die gesig staar.
Taylorstraat, die pad wat motoriste na Laerskool Eloff toe moet aandurf om hul kinders by die skool te kry.
Die T-aansluiting vanaf Modder-Oos Boorde na die R50 pad.
Die Laan in Eloff na die onlangse reën.
Die toestand van die pad wat inwoners van Modder-Oos Boorde daagliks in die gesig staar.

Gemeenskap se reaksie op die vervalle toestand van paaie

Joe van Breda:
“As Eloff inwoner kan ek die toestand van ons paaie in een woord opsom – haglik. Die pad by Laerskool Eloff en Rietkol Primary is onbegaanbaar, veral nou met die aanhoudende reën.

Die Strydpan pad is glad nie meer rybaar nie – die meeste van ons paaie is nie toeganklik met ’n gewone voertuig nie – skade is gewaarborg.

Ambulanse sukkel om by hul bestemmings uit te kom en ek glo almal besef dat die halfuur wat dit neem om een blok te ry, die verskil tussen lewe en dood kan beteken.

Waar gaan VKLM se geld heen, waarvoor word ons belastingeld gebruik, waarom word daar niks aan ons paaie en infrastruktuur gedoen nie?”

Joe van Breda.

Heila Coetzee:
“Vir ons as Eloff Buurtwag is die haglike toestand van ons paaie op Eloff ’n nagmerrie.
Ons beroep ons daaarop om die gemeenskap by te staan wannneer daar nood is met verdagte persone, voertuie en inbrake. Al hierdie insidente het vinnige- en effektiewe reaksie nodig.
Ons het ook ’n mediese span, maar met gewone voertuie is die meeste van die paaie onbegaanbaar en gaan kosbare tyd dikwels verlore.
Dit is tyd dat ons munisipaliteit ophou beloftes maak en verantwoordelikheid neem vir die toestand van Eloff se paaie.”

 

Heila Coetzee.

Derek Bester:
“Sundra, Rietkol en ons hele omgewing se paaie is in ’n haglike toestand.
Ek ry ’n Landcruiser en sommige van die paaie kan ek nie eers meer ry nie.
Wat maak inwoners wat moet werk toe en skool toe – wie hierdie paaie elke dag moet ry?
Niemand doen niks daaromtrent nie – dit is uiters onreverdig.”

Derek Bester.

Petro Mosterd:
“Wat sê ’n mens oor die paaie in en om Sundra? Dit is in ’n verskriklike toestand.
Die teerpaaie is so vol slaggate dat dit lankal nie meer teerpaaie genoem kan word nie; dit is totaal onbegaanbaar.
Dit is geen wonder dat daar so baie ongelukke gebeur nie. Geen kar se bande hou dit ook op die paaie nie, mense ly baie skade.
Ek onthou toe ons nog kinders was, was daar oral padkampe. Die paaie was onderhou en grondpaaie gereeld geskraap. Daarvan is daar niks meer oor nie en ’n mens kan net verstom staan oor die veval van ons paaie.”

Petro Mosterd.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button