CrimeLocal newsNewsStreeknuus

Rowers val aan toe mans van Delmas stop om band te vervang

“‘Pasop oom’ - ek het opgekyk en in die loop van ’n vuurwapen vasgekyk.”

’n Oud Springbokspeler van Delmas en ’n sakevriend het onlangs in die lope van drie vuurwapens vasgekyk.

Nic Bezuidenhout, eienaar van Nickas Biltong en Johan Fourie, die eienaar van Solidariteit Helpende Hand Ons Winkel op Delmas en Springs het verlede week aan Streeknuus van hul ontbering vertel.

Die twee mans was op 21 Februarie na Springs op pad waar Fourie ’n bakkie wou gaan afhaal het.

“Met oom Nic se bakkie het ons ook my sleepwa gehaak, want ek moes dieselfde dag ook skenkings vir Ons Winkel in Springs optel,” het Fourie vertel.

Hulle moes egter omstreeks 09:30 in die Bakerton-omgewing vanaf die pad trek weens ’n pap wiel.

“Ons het die nood-driehoek agter die bakkie geplaas en begin om die band om te ruil. Twee mans het kom hulp aangebied, maar ons het gesê dat ons self sal regkom,” het Bezuidenhout gesê.

“Die volgende oomblik het Johan vir my gesê: ‘Pasop oom’ – ek het opgekyk en in die loop van ’n vuurwapen vasgekyk.”

Die sakemanne was skielik deur drie gewapende mans omring.

“Hulle het ons ‘hands up’ beveel en onder die omstandighede is dit dan presies wat jy doen; jy steek jou hande in die lug. Ek kan nie werklik sê hoe ek op daardie oomblik gevoel het nie,” het Bezuidenhout bygevoeg.

“Jy weet jy kan die rowers nie teenstaan nie, want hulle reaksie sou wees om jou te skiet. ‘n Mens lees baie keer dat rowers van speelgoed- wapens gebruikmaak, maar glo my, daardie vuurwapen was naby genoeg aan my gesig om te bevestig dat ek in die loop van ’n ouerige 9mm Parabellum pistool vasgekyk het.”

Volgens Bezuidenhout het een van die rowers sy boonste hempsak deurvoel.

“My bankkaarte en geld was daarin. Die man het die geld geneem, deur die note geblaai en doodluiters my kaarte in my hempsak teruggesit – half ordentlik, nogals. Ek het toe maar dankie gesê.”


Nic Bezuidenhout en Johan Fourie.

Volgens Fourie het hulle sy beursie uit sy broeksak gehaal, maar daar was geen geld in nie.

“Hulle het dit in die pad neergegooi. Ek moet seker sê ek is dankbaar, ten minste het ek nie my bankkaarte of my bestuurslisensie verloor nie.”

Die rowers het wel Fourie se selfoon geneem. Bezuidenhout se selfoon was binne sy bakkie. Volgens Bezuidenhout en Fourie het die rowers geensins binne-in die bakkie gekyk nie.

“Dit is ’n baie besige gebied. Soveel voertuie het by ons verby gery, maar nie een het die moeite gedoen om te stop nie; al was ons oop en bloot deur drie mans met vuurwapens aangehou,” het Bezuidenhout gesê.

Sowat 5m van hulle af het ’n vrou gesit wat veselperskes verkoop het.

“Sy het geensins reageer nie, net aangegaan met haar besigheid asof niks aan die gebeur was nie. Ander het nikssiende verbygestap.

“Ten einde laaste het ’n polisievoertuig verbygekom. Dié het omgedraai en langs ons bakkie gestop.”

Bezuidenhout vermoed die rowers het groot geskrik want ’n skoot is afgevuur en die rowers het die hasepad in verskillende rigtings gekies en soos mis voor die son in die dig beboude plakkersgebied verdwyn.

“Ons het vir die polisie gevra of hulle dan nie die drie gaan agterna sit nie. Hulle het ons meegedeel dit is te gevaarlik; sou hulle daar ingaan, is hulle dood,” het Bezuidenhout verduidelik.

Fourie het nie geweet wat om tydens die rooftog te voel of te dink nie.

“Alles het so vinnig gebeur, jy voel nie eintlik iets nie. Ek was wel na die tyd ’n bietjie in skok en bewerig. Die oomblik as jy probeer terugbaklei, is dit verby.


LEES OOK: Hawks arrest senior employee in Tutuka Power Station fraud case


“Jy lees so baie in die media oor soorteglyke gebeure en jy wonder hoe jy sal reageer en toe gebeur dit met my; en ja, ek was baie kalm,” het Bezuidenhout gesê.

“Met ’n pistool in die hand het hulle baie mag; jy kan hoe groot en sterk wees, jy is magteloos. Daar was boonop drie pistole.

“Jy dink nie dus daaraan om jou teë te sit nie, al sou jy wou. Ons is dankbaar dat hulle ons nie in die bakkie gedwing het nie – dit kon dalk heeltemal ander gevolge gehad het. Ons lewe beide en is ongedeerd en het baie om voor dankbaar te wees,” het Bezuidenhout bygevoeg.

Bezuidenhout het ook vertel dat hy aan die een rower wat hom aangehou het, gevra het waarom hy dit doen.

“Die haat in sy oë sal my altyd bybly en dit is die een wat ek glo, ek weer sal kan uitken.

“Ek bid elke oggend die beskerming van die engele oor my gesin. Ek glo die engele het daardie dag saamgery. God en sy engele se beskerming was oor my en Johan.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button