Mieliediewe laat boere met hul hare in hul hande
“Kostes van addisionele veiligheid word nie op enige ander manier as direk van ’n boer se netto inkomste verhaal nie.”
Boere in die Delmas-omgewing is raadop met toenemende mieliediefstal. Volgens Derek Bester, die voorsitter van die Sundra Bulldogs is daar ’n skrikwekkende toename in mieliediefstal in die Sundra-omgewing.
Sy span het op 27 Februarie ’n paar van hierdie mieliediewe vasgetrek. Bester vertel die buurtwag het dié aand patrollie gery.
“Ek het vooraf inligting bekom dat daar op die plaas van ’n bekende boer mielies gestroop word. Verdagte voertuie was ook aangemeld. Ek het van ons buurtwag lede ontbied en ons het vining strategiese beplanning gedoen.”
Die span het vanaf hul bymekaarkomplek, die betrokke blok mielies ‘toegemaak’ sodat niemand uit die lande kon ontsnap nie. Die mieliediewe is so vasgetrek en aan die polisie oorhandig.
Bester het bygevoeg dit is skrikwekkend om die lande binne te gaan en te sien wat werklik daarbinne gebeur. Van buite lyk dit soos net nog ’n mielieland, maar binne word groot blokke doodeenvoudig kaal gesteel.
“Mense word met bakkies afgelaai, gaan die mielielande binne en pluk sakke en sakke mielies. Hulle word dan weer later daardie selfde nag of vroegoggend opgelaai.”
Henri Combrink, voorsitter van Cullinan Boere-unie TLU SA, het die mieliediefstal tendens, veral in die Bronkhorstspruit gebied, bevestig.
“Veiligheidswagte kan gehuur word, maar dit is ’n byna onmenslike taak om te verrig – daar word baie hektare mielies geplant en hoe hou jou wagte alles dop?” het Combrink gesê.
“Addisionele koste verbonde aan hierdie beveiliging is baie groot en jou boer, die produsent, lei die verliese. Hierdie koste van addisionele veiligheid word nie op enige ander manier as direk van ’n boer se netto inkomste verhaal nie.”
Streeknuus het ook by ’n plaaslike sekuriteitsmaatskappy, bekend daarvoor dat hulle wagte op plase uitplaas, gesels.
André Boshoff, direkteur van AS Security op Delmas het gesê mieliediefstal op plase is beslis ’n realiteit.
“Ons sien dit daagliks.”

Boshoff het verder ook bevestig die tipiese modus operandi is waar mense met bakkies afgelaai word, mielies binne die lande pluk en die mense tesame met honderde sakke mielies weer opgelaai word.
“Dit gebeur oral. Ons maatskappy bedien spesifiek boere van die Delmas, Arbor, Argent en Eloff gebiede. En ja, dit ruk aan ons boere se sakke.”
Boshoff kon weens vertroulikheidklousules nie die name van sy kliënte bekendmaak nie, maar het wel genoem dat een sowat R700 000 per maand aan sekuriteit bestee.
“By AS Security sien ons ook ’n skerp toename in die aanvraag na wagte. Ons arbeidskoste met die inhuur van ad-hoc wagte het baie skerp toegeneem.”
Terwyl boere se mielies vanuit hul lande gestroop word, is daar ook die gevalle waar boere se mielies gestroop en gelaai word vir aflewering by die graansilo’s. Vragte graan wat mielies en sojabone insluit word doodluiters gekaap, oorgelaai, weggery en aan silo’s verkwansel.

Streeknuus het op 21 Februarie berig oor ’n lid van ’n beweerde sindikaat, Christina Khensani Masina (35), wat in die omgewing van Etwatwa vasgetrek is.
In hierdie geval het ’n privaat speurder na sowat 18 maande se intensiewe speurwerk die fluitjie kon blaas op’n vermeende lid van ’n sindikaat wat graanvragte sou kaap en onder haar naam aan silo’s smous.
Met ’n lasbrief aan hand was Masina op 10 Februarie deur middel van ’n burgerlike inhegtenisneming in die Etwatwa
omgewing vasgetrek waarna sy in die hande van die Benoni Blitspatrollie oorgegee was. ’n Betroubare bron het Streeknuus meegedeel dat daar na bewering nóg ’n sindikaat in die omgewing van Delmas bedrywig is.
“Dit is net ’n kwessie van tyd, maar ons gaan hierdie sindikaat ook vastrek,” het die bron gesê.
Intussen moet boere hul hande diep in hul sakke steek om hul oeste teen diewe te beskerm.



