Local newsNewsStreeknuus

VLU Delmas-tak se uitblinkers word vereer

“Met ons pienk hemde het Jeanette Scheepers opgemerk dat ons soos roomys en room lyk.”

Die VLU Delmas-tak het in Februarie oudergewoonte in die saal van die Hervormde Kerk op Delmas bymekaar gekom.

Die spreker was doktor Martin Janse van Rensburg van die Hervormde Kerk, wat aan die vroue ’n oorsig oor die ontstaan en werksaamhede van Delmas Herleef gegee het.

Die skakelbeampte, Magriet Swart, het gesê, “Hy het vertel van hoe die gemeenskap in die plan ingekoop het om van Delmas ’n spogdorp te maak – van ure se harde werk deur vrywilligers in die warm son, wind en weer.”

“Toe word Kroonstad in 2022 as die Dorp van die Jaar aangewys. Delmas Herleef het toe rubber op teer geslaan en gaan kers opsteek oor hoe maak ’n mens.

“Kroonstad benoem toe onverwags vir Delmas in die Dorp van die Jaar kompetisie vir 2023.”

Volgens Magriet het Janse van Rensburg vertel dat koppe en kragte bymekaar gesit was en Delmas was behoorlik in rep en roer.

“Dit het vrugte gepluk, want Delmas was as Kwêla se Dorp van die Jaar vir 2023 aangewys. Janse van Rensburg het verder vertel dat die werk daarna nog nooit opgehou het nie en dat Delmas Herleef steeds van sterkte tot sterkte groei.”

Mariné Pretorius het Janse van Rensburg bedank, nie net vir sy praatjie nie, maar ook vir sy voortgesette leierskap in die gemeenskap en die tyd en energie wat hy in sy daaglikse werk insit.

Hierna was dit tyd vir ’n vinnige koffie en beskuit waarna die voorsitter, Marié Terblanche, die stoel ingeneem het. Met die formaliteite afgehandel, en die reëlings vir die voorbereiding van die konferensie (wat op 1 Maart plaasgevind het) voorgelê was, was dit tyd vir die prysuitdeling.


Madeleen Blane kuier weer saam na ’n lang siekbed.

Ansie van Zyl het ’n sertifikaat ontvang vir masjienwerk, handborduurwerk, hekelwerk, gebak, mikrogolfgebak en herwinning.
Marié Terblanche het haar sertifikaat vir masjienwerk, handborduurwerk, handvlyt, mikrogolfgebak, lekkers, gebottel, hekelwerk en fotografie ontvang.

Eileen Putter het ’n sertifikaat vir hekelwerk en handbreiwerk ontvang. Wanda Coetser het ’n sertifikaat vir gebottel en fotografie gekry.

Margaret Bezuidenhout se gehekelde granny square kniekombers het meer as 85% behaal en so ook Belinda Duvenage se kreatiewe foto sowel as Mariné Pretorius se koffie bottels wat sy met decoupage herwin het.

Die trofee-wenners was:
Die Delmas Milling-wisseltrofee vir die lid onder drie jaar met die meeste punte het aan Ansie van Zyl gegaan.

Die Elsie Bredenkamp-trofee vir breiwerk het aan Eileen Putter gegaan. Mariné Pretorius het die Sasol-wisseltrofee vir gebak en gebottel ontvang sowel as die huishoudkunde-trofee vir onder 35 jaar.

Ansie van Zyl het die Pioneer-wisseltrofee vir naaldwerk ontvang, die Elize de Klerk-trofee vir hekelwerk en die Malie Joubert-wisseltrofee vir borduurwerk.

Die skryfkuns-wisseltrofee, Oosterhuis-wisseltrofee vir fotografie en die Delmas Koöperasie-wisseltrofee vir kunsvlyt het aan Marié Terblanche gegaan.


Die VLU Delmas-tak vroue lyk prettig in pienk.

Terblanche ook die Omnia-wisseltrofee as algehele wenner ontvang. Na afloop van die prysuitdeling het Mariné Pretorius prettige pienk hemde vir die vroue uitgedeel.

“Ons plan was om Delmas Herleef by te staan en spesifieke heinings netjies te gaan snoei, maar die reën het ons nie dit nie toegelaat nie,” het Magriet gesê.

Die gasvroue Mariné Pretorius en Marie Jordaan het almal genooi om ’n hamburger te gaan geniet by die nuwe kitskosrestaurant op Delmas.

“Met ons pienk hemde het Jeanette Scheepers opgemerk dat ons soos roomys en room lyk.”

Die VLU Delmas-tak nooi weer eens alle vroue om aan te sluit. Vir meer inligting kan Marié Terblanche by 083 968 2203 geskontak word.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button