Standertonner reis 9 000 km per motorfiets vir kinders
Gerhard Kirchner het saam met dokter André Hatting die land deurkruis om gesondheidsorg vir behoeftige kinders te bepleit.
Gerhard Kirchner het op 6 Maart ná sowat ’n maand en 9 000 km per motorfiets, na Standerton teruggekeer.
Kirchner en Rudi Hahn, president van die Lonebuddies Motorfietsryers het op 5 Februarie uit Standerton na Oudtshoorn vertrek waar hulle dokter André Hatting ontmoet het vir ’n roete van 7 000km om Suid-Afrika.
Hatting,’n gekwalifiseerde pediater, het sy tyd op die pad bestee om vir kinders wat dit benodig gratis behandeling te reël.
Dié was Kirchner se tweede rit om Suid-Afrika en volgens hom, het talle ander motorfietsryers hulle langs die pad ondersteun.
Dit was egter net Kirchner en Hatting wat die volle roete voltooi het, met Hahn in die ondersteuning voertuig.
“Ons het ’n denkbeeldige sirkel om Suid-Afrika getrek om ons kinders te beskerm,” het Kirchner gedeel.
Hulle het op die motorfietse gereis na die suidelikste, westelikste, oostelikste en noordelikste punte van Suid-Afrika. Tydens die rit het Kirchner en Hatting talle kinderhuise, ouetehuise en hospitale besoek voor hulle uiteindelik Donderdag by die Laerskool Standerton se hekke ingery het.
In ’n hartroerende toespraak het Kirchner die leerders van SLS gemotiveer om altyd dankbaar te wees.
“Moet net nooit ophou droom nie,” het hy vir die leerders gesê.
Daar is egter ’n groter rede agter Kirchner se keuse om dié lang pad aan te durf. Kirchner het verduidelik ’n dokter het 12 jaar gelede vir hom 10 jaar gegee het om te leef.

Vir 10 jaar lank was hy bekommerd oor die tyd wat hy oor het en hoe min dit is, maar toe jaar 11 kom het hy die lewe ten volle begin aangryp.
Vir Kirchner was die hoogtepunt van die toer hul besoek aan Kaap Agulhas. Hy het vertel hoewel hulle geen ernstige probleme op die pad ondervind het nie, was hulle byna op Tambazimbi vasgekeer.
“Die brug het oorspoel sowat ’n uur nadat ons daar vertrek het,” het Kirchner gesê.
Na die lang rit was die motorfietsryers dankbaar om uiteindelik weer hul geliefdes te sien.







