Local newsNewsStreeknuus

Een sterf in twee afsonderlike vragmotor ongelukke by Delmas

Die bestuurder van een van die vragmotors moes vanuit die kajuit bevry word en het hy albei sy bene verloor.

’n Vragmotorbestuurder het met sy lewe daarvan afgekom toe twee vragmotors op 9 Maart omstreeks 16:00 in ’n kop-aan-kop ongeluk betrokke was op die R555 digby Dryden, net buite Delmas.

Die bestuurder van een van die vragmotors moes vanuit die kajuit bevry word. Volgens inligting op die toneel was die impak so groot dat die enjin van die vragmotor bo-op sy bene beland en in die proses het hy beide bene verloor.

Paramedici was vining op die toneel en het dadelik begin om die erg beseerde bestuurder te stabiliseer, maar weens sy uiters kritieke toestand het hulle ’n lugambulans ontbied.

Die helikopter moes egter terugkeer, want die man het aan sy beserings beswyk en is op die toneel dood verklaar.
Die ander vragmotorbestuurder was per ambulans na ’n hospitaal vervoer.

Die oorsaak van die ongeluk was teen druktyd nog nie bekend nie en vorm deel van ’n polisie onersoek. Alle nood personeel was op die toneel en die pad was lank vir verkeer in beide rigtings gesluit terwyl die forensiese afdeling hul taak uitgevoer het voordat die wrakke verwyder is.


Beseerdes na ’n ongeluk op die R50, in die rigting van Leandra.

Wat blyk, presies dieselfde tyd te wees, was daar nog ’n ongeluk op die R50, ongeveer 20km buite Delmas, in die rigting van Leandra. ’n Vragmotor en twee passasiersvoertuie, ’n goudkleurige Kia en ’n wit Toyota Corolla was in hierdie botsing betrokke.

Die bestuurder van die Kia, ’n inwoner van Magaliesburg en ook die bestuurder van die Toyota en sy passasier, ’n vrou, het almal geen ernstige beserings opgedoen nie.

“Omstanders het, ten aanskoue van die twee motorwrakke, hul verbasing uitgespreek oor die geringe beserings van die betrokke partye.

Die vragmotor bestuurder is op die toneel deur lede van AfriForum Delmas Valke Buurtwag eerstehulp span gestabiliseer en per ambulans na die Bernice Sameul Hospitaal vervoer.

Lede van die buurtwag het ook bygestaan om die verkeer te beheer. Die vragmotor bestuurder het aan ’n bron op die toneel vertel die twee kleiner voertuie het mekaar glo verbygesteek.


Buurtwag lede bied hulp aan ’n messteek slagoffer binne ’n afgebakende ongelukstoneel op die R555.

Hy het dit gesien, remme aangeslaan, maar kon glo nie betyds stop om die ongeluk te probeer vermy nie. Die oorsaak van hierdie ongeluk was ook teen druktyd nog nie bekend nie.

Volgens lede van AfriForum Delmas Valke Buurtwag het hul proto-, reaksie- en noodhulpspanne lede om ongeveer 18:16 van die ongelukstoneel op die R555 afgestaan.

Die dag se drama was egter nie verby nie, want etlike honderd meter vanaf die ongelukstoneel, het hulle ’n man aan die kant van die pad opgemerk.

“Ons verbasing was groot, want hierdie man was duidelik beseer – alhoewel die pad gesluit was, was ons lede se onmiddelikke reaksie dat dit moontlik ’n tref-en-trap kon wees,” het Jolene Rheeder vertel.

Dit het egter gou duidelik geword dat die man met ’n mes gesteek was.

“Dit binne in hierdie afgebakende ongelukstoneel,” het Carel Botha vertel.

Volgens Botha het noodhulp lede mediese bystand aan die messteek slagoffer gebied. Daar was nog ’n ambulans op die ongelukstoneel en die man kon na die Bernice Samuel Hopsitaal vervoer word vir verdere mediese bystand.

’n Ooggetuie het na vore gekom en vertel dat twee jong mans die slagoffer aangerand en van sy selfoon beroof het.

Die Valke reaksiespanne kon daarin slaag om die twee verdagtes aan te keer en ’n bebloede mes en selfoon was in hul besit.

Met die polisie ook op die ongelukstoneel was die twee verdagtes in hegtenis geneem en na die Delmas polisie vervoer.

Teen druktyd kon Streeknuus verneem die slagoffer het sodanig herstel dat hy ’n verklaring kon aflê. Die twee verdagtes was steeds in aanhouding.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button