Gesin pak verwaarloosde Delmas Begraafplaas eiehandig
“Flip het daardie nag byna glad nie geslaap nie en die volgende oggend het ons en ons jongste seun, Gerbrand, die gras- en kantsnyer gelaai en begin skoonmaak.”
“Ons seun lê hier begrawe; dit was net nie moontlik om sy graf te besoek nie.”
Dit was die woorde van Flip en Jane van der Merwe toe Streeknuus hulle op 7 Maart by die Delmas Begraafplaas gaan besoek het.
Volgens Jane wou hulle besoek aan hul oorlede seun, ook Flip, se graf bring.
“Ons seun is 23 jaar gelede, op 2 Maart 2002, oorlede,” het dié egpaar van Eloff vertel.
Flip het breinkanker gehad en is in die jong ouderdom van 12 jaar dood.
Met hul aankoms by die begraafplaas op 3 Maart was die skok groot – alles was toegegroei en verwaarloos. Menigte grafte het ingesak en baie was gebreek.

“Flip (senior) het daardie nag byna glad nie geslaap nie en die volgende oggend het ons en ons jongste seun, Gerbrand, die gras- en kantsnyer gelaai en begin skoonmaak,” het Jane vertel.
Met Streeknuus se besoek aan die begraafplaas was daar reeds ‘n groot verskil. Gras was kort gesny en rante netjies afgewerk.
Flip en Jane het egter ook hul kommer uitgespreek oor die grafte wat gesak het.
“Ons hoop om sand as skenking te ontvang sodat ons ook dié grafte kan opvul.”
Jane het verder vertel hulle wil teël-sement aankoop om van die vernielde grafstene te herstel.
“Sommige die kopstukke kon ons optel en net weer staande maak, maar so baie is bloot net geskend. Alles wat koper is of iets metaal, steel hulle doodeenvoudig net af; daar is geen respek nie,” het die twee bygevoeg.
Flip het Streeknuus ook daarop gewys dat haweloses hul ook weer in die begraafplaas tuis gemaak het.

“Hulle slaap onder die bome, sommer bo-op die grafte; dit is ‘n vieslike gemors,” het Flip al beduidende vertel.
Streeknuus (7 Februarie ) het berig oor die haweloses wat die begraafplaas hul tuiste gemaak het, hul slaap daar, mors daar en gebruik dit as toilet.
Daar was toe ook reeds duidelike tekens van dwelmgebruik met selfs gebruikte naalde wat die begraafplaas ontsier het.
Die Van der Merwes is vol hoop dat hulle die begraafplaas weer toeganklik vir families kan maak.
“Ons moet dit maar self doen. Die munisipaliteit gaan niks daaromtrent doen nie,” het Gerbrand bygevoeg.
Intussen het menige boodskappe van dank vir die Van der Merwes se liefdesdaad op plaaslike gemeenskap Facebook blaaie die lig gesien.





